Londen - Wikipedia
Gaan na inhoud
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Londen
London
Kaart
Wapen (City of London)
Vlag (City of London)
Land
Verenigde Koninkryk
Land (VK)
Engeland
Seremoniële graafskappe
City of London
Groter Londen
Koördinate
51°30′N
0°07′W
51.500°N 0.117°W
51.500; -0.117
Stigting
50
(as Londinium)
Oppervlakte:
- Totaal
572
vk km
Hoogte bo seevlak
35
Bevolking:
- Totaal (2015)
630
000
- Bevolkingsdigtheid
490/km²
- Metropolitaanse gebied (2015)
13
879
757
Tydsone
UTC
±0 (GMT)
Somertyd
UTC
+1 (BST)
Klimaat
- Tipe
Oseaniese klimaat
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur
10,7
°C
- Gem. temp. Januarie/Julie
4,3 / 17,7
°C
- Gemiddelde jaarlikse neerslae
593
mm
Burgemeester
Sadiq Khan
Labour
Amptelike Webwerf
london.gov.uk
Londen
Engels
London
[ˈlʌndən]
luister
hulp
inligting
) is die
hoofstad
en grootste stad van
Engeland
en die
Verenigde Koninkryk
. Die stad, wat aan die
Teemsrivier
in die suidooste van Engeland geleë is, is in 50 n.C. deur die Romeine as
Londinium
gestig en het in die 19de eeu tot die grootste
metropool
ter wêreld gegroei. As hoofstad van die
Britse Ryk
het Londen tot enkele dekades gelede 'n beduidende rol as middelpunt van 'n wêreldryk gespeel waaroor "die son nooit ondergaan nie" en fungeer tans nog steeds as die hoofstad van die
Britse Statebond
(Engels:
Commonwealth
).
Die Londense binnestad met die
Paleis van Westminster
in die voorgrond soos vanaf die Methodist Central Hall gesien
Londenaars lewe in 'n vinnig veranderende metropool...
...maar oral loop die spoke van die verlede...
Die nuwe Londen: wolkekrabbers in Canary Wharf op 'n reënerige dag
Vandag het ander metropole ten opsigte van hul bevolkingsgetal lankal by Londen verbygesteek. Desondanks is die stad naas
Moskou
en
Parys
een van die drie grootste stedelike sentra in
Europa
en een van die vernaamste finansiële sentra ter wêreld naas
New York
en
Tokio
. Net soos dié twee metropole word Londen as 'n Globale Alfastad (
Alpha Global City
) geklassifiseer en kan dus aanspraak daarop maak dat dit een van die episentra van die wêreldekonomie is.
Londen genereer sowat 'n vyfde van die Verenigde Koninkryk se
bruto nasionale produk
. Eeue lank reeds is Londen daarnaas 'n invloedryke sentrum in
politiek
kunste
en
modeontwerp
. In 2012 het Londen die eerste stad ter wêreld geword wat drie keer as gasheer van die
Olimpiese Somerspele
opgetree het.
Londen het vanuit die Teemsrivier gegroei. Die rivier het sy eerste deurgang gevorm, en tydens die verskeie immigrasiegolwe het
Italianers
Jode
Hugenote
en baie ander nuwe aankomelinge hulle in die
East End
van Londen, 'n vroeë voorstadgebied met sy tipiese werkersklasbuurte langs die rivieroewer, gevestig. As buitelanders is hulle aanvanklik nie tot die stad toegelaat nie.
Die oorspronklike historiese stadskern of "
The City
" is vroeër deur 'n stadsmuur beskerm en beslaan net 'n klein oppervlakte van sowat een vierkante myl tussen Tower Bridge en Blackfriars Bridge. "The City" is vandag die finansiële distrik van Londen wat nog steeds deur sy eie burgemeester, die "Lord Mayor" van Londen, geregeer word en om historiese redes ook sy eie polisie-eenheid, die
City of London Police
, het wat onafhanklik van
Groter Londen
se Metropolitaanse Polisie bestaan. Die administratiewe setels van Londen is buite die
City of London
in
Southwark
(hier het die moderne
City Hall
ontstaan) en in Londen se stadswyke (
boroughs
) geleë wat oor hul eie administratiewe liggame beskik, terwyl die Britse regering in Westminster (in die historiese "
West End
" met sy koninklike paleise) gesetel is.
Die huidige metropool het uit twee onafhanklike
middeleeuse
stede ontwikkel, die
City of London
en die
City of Westminster
(tans die geografiese sentrum van Londen), wat oor die eeue steeds verder uitgebrei het om nedersettings in die omgewing in te sluit en uiteindelik die huidige Groter Londen te vorm. Maar nog in die 19de eeu was daar geen sprake van 'n sentrale stadsregering nie en is die gebied van Groter Londen deur 150 parogieë met altesaam 300 administratiewe liggame bestuur. Die
London County Council
as eerste plaaslike owerheid vir die stadsgebied is eers in 1889 gevorm.
Die stad is ook nie stelselmatig as koninklike hoofstad beplan nie, en daar is geen statussimbole soos breë lane wat in ander magsentrums soos byvoorbeeld in Parys en Moskou aangelê is nie. Net soos
Berlyn
bestaan die huidige Groter Londen in werklikheid uit 'n verskeidenheid stadsbuurte wat hul oorsprong in histories selfstandige nedersettings het en tot vandag dikwels hul eie karakter bewaar het, soos
Greenwich
in die ooste en Richmond in die weste. Die meeste van hulle beskik oor hul eie
High Street
as historiese hoof- en winkelstraat.
Etimologie
wysig
wysig bron
"Londen" is 'n antieke naam en vir die eerste keer gebruik in die eerste eeu n.C., hoofsaaklik in
Latyn
as
Londinium
Moderne wetenskaplike ontledings van dié naam moet let op die oorsprong van die verskillende vorme wat in vroeë bronne gevind kan word:
Latyn
(hoofsaaklik
Londinium
), Oudengels (hoofsaaklik
Lunden
) en
Wallies
(hoofsaaklik
Llundein
), met verwysing na die bekende ontwikkelings oor die tyd heen van klanke in daardie verskillende tale. Dit word algemeen aanvaar dat hierdie tale die naam van
Britonies
oorgeneem het; onlangse werk is geneig om die verlore Keltiese vorm van die naam te rekonstrueer as
*Londonjon
of iets soortgelyks. Dit is in Latyn oorgeneem as
Londinium
en ook in Oudengels geleen.
Tot in 1889 het die naam "Londen" amptelik verwys na die
City of London
, maar sedertdien verwys dit ook na die Graafskap Londen en
Groter Londen
Geografie
wysig
wysig bron
Die
Thames Barrier
Die heuwellandskap van Noord-Londen:
Hampstead Heath
Uitsig oor die Teems en Sentraal-Londen vanuit Greenwich
Die stadsgebied van Londen is in die sogenaamde Londen-bekken geleë en strek oor 45 kilometer langs die bevaarbare benedeloop van die Teemsrivier, met 'n gemiddelde hoogte van 15 meter bo seevlak. Dit word omring deur saggies golwende heuwelland wat 'n maksimale hoogte van sowat 150
m bereik. "The City", aanvanklik 'n klein nedersetting aan die noordoewer en 75
km rivierop van die Teemsmonding geleë, was die historiese groeikern van Londen.
Die grootste gedeelte van Londen is dus noord van die rivier geleë. Tot in 1739 was die Londen-brug die enigste brugverbinding oor die Teems. Eers toe in die 18de eeu meer brûe gebou is en vanaf die 19de eeu ook spoorlyne ontstaan het, het Londen begin om in alle rigtings uit te brei en buurdorpe op te neem. Hierdie proses is deur die plaaslike landskapsvorm bevorder – die stadsgebied bestaan hoofsaaklik uit vlaktes of effens golwende terrein.
Die Teemsrivier was in die verlede duidelik wyer en minder diep. Vandag word sy loop grotendeels deur damme begrens, en die meeste takriviere vloei ondergronds. Die
getye
van die
Noordsee
kom hier nog duidelik in, en die seewater wat in die rivier opstoot, hou steeds 'n bedreiging vir Londen in. Om oorstromings en stormvloed te voorkom, is die sogenaamde
Thames Barrier
in die 1970's naby Woolwich (oos van Greenwich) gebou.
Die geografiese koördinate van die stadsentrum naby
Trafalgar Square
is die noordelike breedtegraad 51,30 en die westelike lengtegraad 0,08. Die bekende Nulmeridiaan loop deur die Koninklike Sterrewag in Greenwich en dien as die uitgangspunt van die lengtegrade en sodoende ook die tydsones.
Klimaat
wysig
wysig bron
Stormwolke oor die middestad
Teemsrivier naby Canary Wharf op 'n Septemberdag
Uitsig oor die Teems in Sentraal-Londen, September 2015
Londen het net soos die grootste deel van Suid-Engeland 'n gematigde seeklimaat. Ondanks sy reputasie as 'n reënerige stad ontvang Londen met 611
mm minder jaarlikse neerslae as byvoorbeeld
Rome
met 834
mm of
Bordeaux
met 923
mm. Oktober, November en Desember is die natste maande met 'n gemiddelde reënval van 57
mm.
Winters is koel, waarby die kwik dikwels benede vriespunt kan daal. So kom ryp in die voorstede gedurende die tydperk tussen November en Maart sowat twee keer per week voor. Sneeuvalle word tussen vier en vyf keer per jaar aangeteken, veral tussen Desember en Februarie, soms ook so laat as Maart of April. Wintertemperature wissel gewoonlik tussen -4
°C en 14
°C. Die laagste temperatuur ooit is in die winter van 2010 met -14
°C in Northolt aangeteken. Destyds het die swaarste sneeuvalle in byna twee dekades ook vervoer in Londen ontwrig.
Somers is algemeen warm, waarby temperature in die dig beboude middestad as gevolg van die warmte-eiland-effek soms 5
°C hoër kan wees as in die voorstede en die omgewing van Londen. Die gemiddelde maksimale somertemperatuur is 24
°C, waarby die kwik op 'n gemiddeld van sewe dae per jaar ook bo 30
°C en op twee dae bo 32
°C kan styg. Temperature van meer as 26
°C word tussen middel Junie en laat Augustus op 'n weeklike basis aangeteken. Gedurende die hittegolf van 2003 het die kwik op veertien opeenvolgende dae bo 30
°C gestyg en op twee opeenvolgende dae selfs uiterstes van 38
°C bereik.
Lente- en herfsmaande word deur wisselende weerstoestande gekenmerk, met uiterstes tussen -10
°C en 37,9
°C. Inversielae oor Londen kom gereeld voor. Hoë vlakke van lugbesoedeling tydens 'n inversielaag met swaar mis het op 5 Desember 1952 tot duisende sterfgevalle gelei. Hierdie ramp staan as die
Great Smog of '52
of die
Big Smoke
bekend.
Weergegewens vir Londen
Maand
Jan
Feb
Mar
Apr
Mei
Jun
Jul
Aug
Sep
Okt
Nov
Des
Jaar
Hoogste maksimum (°C)
15
19
21
29
32
35
35
38
35
28
21
15
38
Gemiddelde maksimum (°C)
8,1
8,6
11,6
14,6
18,1
21,0
23,4
23,1
20,0
15,5
11,3
8,4
15,3
Gemiddelde minimum (°C)
3,1
2,7
4,6
5,9
8,9
11,8
13,7
13,8
11,4
8,8
5,8
3,4
7,8
Laagste minimum (°C)
−21,1
−9
−8
−2
−1
−4
−5
−21,1
−21,1
Neerslag (mm)
41,6
36,3
40,3
40,1
44,9
47,4
34,6
54,3
51,0
61,1
57,5
48,4
557,4
Bron: Wêreldmeteorologiese Organisasie
vir die uiterstes en metoffice.gov.uk
vir die gemiddeldes en die neerslag
Status
wysig
wysig bron
Die
parlementsgebou
teen sononder
Suid-Afrika-huis
op
Trafalgarplein
huisves die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissie in die Verenigde Koninkryk
Die
Buckingham-paleis
Twee nedersettings in Groter Londen, die
City of London
en die
City of Westminster
, het
stadstatus
city status
). Die
City of London
en die res van Groter Londen vorm daarnaas seremoniële graafskappe. Die huidige Groter Londen – met 1
600
km² tans die tweede grootste metropool ter wêreld volgens oppervlakte na Moskou – sluit intussen ook gebiede in wat vroeër deel uitgemaak het van die historiese graafskappe Middlesex, Kent, Surrey, Essex en Hertfordshire en is tans een van die streke waarin Engeland vir administratiewe doeleindes verdeel is.
Die status van hoofstad van Engeland, en later van die Verenigde Koninkryk, is nooit amptelik aan die stad toegeken of deur 'n wet of enige ander geskrewe dokument bevestig nie. Die stad fungeer volgens 'n grondwetlike konvensie as regeringsetel sodat sy politieke status as de facto-hoofstad deel uitmaak van die Verenigde Koninkryk se ongeskrewe grondwet.
Oorspronklik het Winchester as hoofstad van Engeland gedien, maar toe die
Westminster-paleis
in die 12de en 13de eeu tot die permanente setel van die koninklike hof ontwikkel het, het Londen sy funksie as politieke hoofstad oorgeneem. Westminster en Whitehall vorm al byna 'n millennium lank 'n politieke, godsdienstige en koninklike magsentrum nadat die laaste Angel-Saksiese koning
Eduard die Belyer
(1042–1066) Westminster tot koninklike en biskopsetel verhef het.
Die vroeë Engelse parlement het oorspronklik in die 14de eeu in die
Westminster-abdy
vergader en kon later, toe die koninklike hof onder
Hendrik VIII
na Whitehall verhuis het, die hele koninklike Westminster-paleis as sy setel oorneem. In die 19de eeu, toe die mag van die Britse Ryk sy hoogtepunt bereik het, het die regeringsdepartemente van Whitehall oor 'n kwart van die wêreldbevolking geregeer.
10
Geskiedenis
wysig
wysig bron
Etimologie
wysig
wysig bron
Die naam
London
is moontlik van die Teemsrivier afgelei
Daar bestaan steeds 'n meningsverskil oor die etimologie van die stadsnaam, en deur die eeue is 'n verskeidenheid hipoteses en teorieë ontwikkel wat meestal om taalkundige of historiese redes verwerp is. Slegs 'n klein aantal daarvan kan aanspraak maak op akademiese plausibiliteit, alhoewel daar nog geen regstreekse bewyse vir enige stelling opgelewer is nie.
Londen is in die 1ste eeu n.C. deur die Romeine gestig, maar daar het al vroeëre nedersettings in die huidige stadsgebied bestaan. Wortels soos
Londin-
en
Lundin-
kom in die meeste naamvariante voor waarmee vanaf die Romeinse tydperk na Londen verwys is. Geoffrey of Monmouth se 12de eeuse werk
Historia Regum Britanniae
("Geskiedenis van die Konings van Brittanje") beweer dat die stadsnaam van koning Lud afgelei is wat in die vroeë geskiedenis oor Londen geregeer en dit
Kaerlud
genoem het. Die oudste historiese verwysing na die Romeinse naam
Londinium
dateer van 121 n.C.
Vanaf 1898 is algemeen aangeneem dat die stadsnaam van Keltiese oorsprong sou wees. Sy betekenis is geïnterpreteer as die "plek wat aan 'n man met die naam Londinos behoort". Hierdie stelling word deur moderne wetenskaplikes verwerp. In 1998 het Richard Coates met 'n nuwe teorie na vore gekom waarvolgens die naam van die voor-Keltiese Oud-Europese wortel
*(p)lowonida
("rivier wat te wyd is om dit te deurwaad"). Volgens Coates is daardie naam vir 'n deel van die Teemsrivier gebruik wat deur Londen vloei en sou later die basis vir die Keltiese benaming
Lowonidonjon
vorm.
11
Tot en met 1889 is slegs na die
City of London
amptelik as
London
verwys, maar sindsdien is die naam ook vir die graafskap Londen gebruik. Dit verwys tans na die hele stadsgebied van Groter Londen.
Vroeë geskiedenis en antieke tydperk
wysig
wysig bron
'n Model van die Romeinse Londinium in die tydperk tussen omstreeks 85–90 n.C. word in die Britse Museum te Londen vertoon. Die eerste Romeinse brug oor die Teems was naby die huidige
London Bridge
geleë
'n Model van Londinium se Romeinse badhuis
Museum of London
'n Gerekonstrueerde Romeinse eetkamer in Londinium, omstreeks 300 n.C.
Museum of London
Twee onlangse argeologiese ontdekkings dui daarop dat die geskiedenis van Londen verder terug strek as aanvanklik aangeneem. So is in 1999 oorblyfsels van 'n brug uit die
Bronstydperk
noord van Vauxhall-brug opgegrawe. Hierdie brug het óf die Teemsrivier oorspan óf tot 'n (verlore) riviereiland gelei. Dendrologiese ondersoeke het die brughout op 1500 v.C. gedateer.
In 2010 is die fondament van 'n groot houtstruktuur aan die Teemsoewer suid van die Vauxhall-brug deur argeoloë blootgelê. Die funksie van hierdie Steentydse gebou, wat omstreeks 4500 v.C. ontstaan het, is tans nog nie ontsleutel nie, maar dit beslaan 'n oppervlakte van 50
m x 10
m, en 'n groot aantal pale met 'n lengte van 30 sentimeter word tydens eb sigbaar. Albei strukture is by South Bank geleë, sowat vier kilometer rivier-op van die latere Romeinse Londinium en naby die monding van die Effra- in die Teemsrivier waar die rivier maklik oorgesteek kon word. Die kraginspanning, wat aan die oprigting van hierdie strukture vervbonde was, het handelsbetrekkinge, stabiliteit en 'n plaaslike gemeenskap van tenminste enkele honderd bewoners vereis.
Alhoewel kleiner nedersettings van Britoniese Kelte spore in die gebied gelaat het, is Londen as stedelike nedersetting eers in 43 n.C. deur die Romeine gestig.
12
Hierdie vroeë Romeinse nedersetting het slegs sewentien jaar lank as belangrike hawe en middelpunt van die Romeinse padnetwerk in Brittanje bestaan voordat dit in 61 tydens 'n opstand deur die Keltiese Iceni-stam onder bevel van koningin Boudica ingeneem en tot die grond afgebrand is.
Die heropbou van Londinium is noukeurig beplan, en uiteindelik het dit in 100 Camulodunum (die huidige Colchester) as administratiewe hoofstad van die Romeinse provinsie
Britannia
vervang. Vanaf 197 n.C. was Londinium die hoofstad van die provinsie Britannia superior en vanaf omstreeks 300 n.C. die hoofstad van Maxima Caesariensis. Op sy hoogtepunt het Londinium in die 2de eeu sowat 60
000 inwoners getel. 'n Aantal belangrike openbare geboue het hier ontstaan, waaronder die grootste basiliek noord van die
Alpe
, tempels, baddens, 'n amfiteater en 'n groot fort vir die stedelike garnisoen. As 'n welvarende handelsentrum is die stad met 'n muur versterk. Ook ses van Londen se sewe tradisionele stadspoorte dateer uit die Romeinse periode: Ludgate, Newgate, Aldersgate, Cripplegate, Bishopsgate en Aldgate. Die enigste uitsondering is Moorgate wat eers in die middeleeue ontstaan het.
Politieke instabiliteit en die ekonomiese agteruitgang vanaf die 3de eeu het bygedra tot Londinium se geleidelike verval. In die onstuimige periode tussen 200 en 400 was Londinium as buitepos van die Romeinse wêreld aan Germaanse aanvalle blootgestel. Die plaaslike Romeinse magte was op Germaanse huursoldate aangewese om die stad teen invallers te beskerm. Nadat Brittanje in 410 deur die Romeine ontruim is, is Londinium se status afgeskaal tot dié van 'n landelike nedersetting wat deur Angel-Saksiese krygshere oorheers is.
Die Angel-Saksiese tydperk
wysig
wysig bron
Londen en die koninkryk Essex, wat 'n tyd lank ook Middlesex ingesluit het
In die tyd tot die 7de eeu het 'n nuwe Angel-Saksiese nedersetting, Lundenwic, sowat twee kilometer rivier-op vanaf die ou Romeinse stad ontstaan, met die huidige Covent Garden as sy middelpunt. Hierdie nedersetting met 'n geometriese straatrooster het 'n bevolking van tussen 10
000 en 12
000 gehuisves. Waarskynlik was daar 'n vissers- en handelshawe by die monding van die Fleet-rivier wat van Lundenwic 'n florerende handelsentrum gemaak het voordat die nedersetting deur Wikings ingeneem is en ooswaarts na die ou Romeinse stadsgebied met sy beskermende stadsmuur verskuif moes word. Die agtervoegsel
-wic
dui in elk geval daarop dat dit 'n handelsplek was.
Die vroeë Angel-Saksiese Londen was in die stamgebied van die Middel-Saksers geleë wat hul naam aan die graafskap Middlesex verleen het, alhoewel hierdie stam 'n groter gebied bewoon het wat waarskynlik tot in die huidige Hertfordshire en Surrey gestrek het. Teen die vroeë 7de eeu is Londen egter by die Oos-Saksiese koninkryk ingelyf. Koning Saebert van Essex het in 604 die Christelike geloof aangeneem, en Mellitus, die latere 3de aartsbiskop van Canterbury, het Londen se eerste biskop sedert die einde van die Romeinse heerskappy geword.
Essex het in hierdie tyd onder die gesag van koning Æthelberht van Kent gestaan. Hierdie monarg het ook as beskermheer vir die eerste katedraal gefungeer wat deur Mellitus opgerig en aan Sint Paulus gewy is. Volgens tradisionele oorlewerings het hierdie katedraal op die terrein van 'n vroeëre Romeinse Diana-tempel ontstaan, maar die latere boumeester
Christopher Wren
het geen bewyse gevind wat dié bewering sou kon gestaaf het nie. Dit was nog 'n taamlik eenvoudige kerkgebou en is moontlik vernietig nadat Mellitus deur Saeberht se heidense opvolgers uit die stad verdryf is.
Eers tydens die regentskap van koning Sigeberht II in die 650s is die Christelike geloof as permanente godsdiens in die Oos-Saksiese koninkryk gevestig. Gedurende die 8ste eeu het die koninkryk
Mercia
se invloed tot die suidooste van Engeland begin uitbrei, en uiteindelik is die hele gebied deur Mercia geannekseer. Londen het blykbaar vanaf die 730s onder die regstreekse gesag van Mercia gestaan.
Londen is vir die grootste deel van die 9de eeu deur Wiking-aanvalle geteister wat vanaf omstreeks 830 in intensiteit toegeneem het. Die stad is twee keer, in 842 en nog eens in 851, geplunder. Die Deense "Groot Heidense Leër", wat vanaf 865 deur Engeland getrek en dood en verwoesting gesaai het, het in 871 in Londen oorwinter. Die stad het nog tot in 886 in Deense hande gebly voordat dit deur koning
Alfred die Grote
se magte ingeneem en 'n vredesooreenkoms met die Deense leier Guthrum gesluit is. Engeland is in 'n Saksies-oorheerste koninkryk onder Alfred se gesag en in die Deens-oorheerste Danelaw opgedeel. Londen is vervolgens weer by Mercia ingesluit wat destyds deur Alfred se skoonseun Ealdorman Æthelred geregeer is.
Die koning en sy
witan
Die
Witenagemot
(letterlik: "vergadering van wyse mans") het tussen die 7de en 11de eeu as politieke instelling in Angel-Saksiese Engeland bestaan. Dit was 'n vergadering van die heersende klas en het uit die land se leidende wêreldlike en geestelike edelmanne bestaan. Sy lede (Oud-Engels:
witan
) het as raadgewers vir die koning opgetree.
Die fokus van die nedersetting, wat voortaan as Lundenburgh bekend gestaan het, is destyds om veiligheidsredes na die ou Romeinse stad met sy beskermende stadsmuur verskuif. Die muur en ander versterkings is herstel, terwyl ook die Teemsbrug waarskynlik in hierdie periode, wat as die historiese beginpunt van die
City of London
en sy besondere administrasie beskou word, herbou is. Die tradisionele stadsgrense van die
City
kom ook vandag nog grotendeels met die ou stadsmuur ooreen.
'n Tweede versterkte
borough
het aan die suidoewer in die huidige Southwark ontstaan, die Suthringa Geworc of "Verdedigingswal van die mans uit Surrey". Die oorspronklike Saksiese nedersetting Lundenwic het voortbestaan as
Ealdwic
("ou stad"), 'n naam wat steeds voortleef in Aldwych (tans in die
City of Westminster
geleë).
Ná Æthelred se afsterwe het Londen weer onder die regstreekse gesag van die konings van Engeland gestaan. Die
Koninkryk Engeland
, wat deur Alfred gestig is, is deur sy seun
Edward die Ouere
na voormalige Deense gebiede uitgebrei. Londen was in die vroeë 10de eeu al 'n belangrike handelsentrum, en alhoewel die regeringsetel van die Engelse konings steeds in Winchester geleë was, het dit ook tot 'n politieke sentrum begin ontwikkel. Onder koning Æthelstan is Koninklike Raadsvergaderings in Londen gehou en ook baie wette hier afgekondig. Koning
Æthelred II
het van Londen sy gunstelinghoofstad gemaak en hier in 978 die sogenaamde Londense Wette (
Laws of London
) afgekondig.
Die Westminster-abdy
Gedurende die heerskappy van koning Æthelred het die Wikings hul aanvalle op Engeland hervat. 'n Leër onder bevel van koning Sven Gaffelbaard van Denemarke het in 994 'n vergeefse poging onderneem om Londen in te neem. Die Engelse weerstand teen die Deense aanvallers is in 1013 gebreek, maar Londenaars het steeds daarin geslaag om Deense aanvalle af te weer en was eers laat in daardie jaar genoodsaak om aan die Deense magte oor te gee. Die koning het na die buiteland gevlug.
Net vyf weke nadat hy as koning geproklameer is, is Sven oorlede en het Æthelred sy regentskap herstel. Sven se seun Knut het die Deense aanvalle in 1015 hervat. Ná Æthelred se afsterwe in 1016 is sy seun Edmund Ironside deur die
witangemot
as koning uitgeroep en het darna na
Wessex
vertrek om daar sy troepe te versamel. Londen is deur Knut se magte beleër, maar deur koning Edmund se magte ontset. Ná sy neerlaag in die slag van Ashdown het Edmund alle Engelse gebiede noord van die Teemsrivier aan Knut afgestaan, insluitende Londen. Met Edmund se dood enkele weke later het die hele land onder Knut se bewind gekom.
Die Engelse heerskappy oor die land is eers in 1042 na die uitwissing van Knut se dinastie onder Eduard die Belyer herstel. Eduard het bekendheid verwerf as die stigter van die Westminster-abdy waar hy baie tyd deurgebring het. Sodoende het Westminster geleidelik die
City of London
as regeringsetel vervang.
Edward is in 1066 sonder duidelike erfgenaam in die Westminster-abdy oorlede. Vervolgens is graaf Harold Godwinson en
Willem die Baster
, hertog van Normandië, in 'n opvolgingsgeskil gewikkel. Harold Godwinson is deur die
witenagemot
as Engelse koning verkies en in die Westminster-abdy gekroon, maar kort daarna deur Willem in die
Slag van Hastings
gedood. Die oorlewende lede van die
witan
het in Londen vergader om Edward se jong neef Edgar die Ætheling as opvolger te verkies.
Normandiese magte het intussen na die Teems se suidoewer net teenoor Londen beweeg waar hulle 'n Engelse aanval afgeweer en Southwark tot die grond afgebrand het. Hulle was egter nie in staat om die plaaslike brug in te neem nie. Hulle het rivierop getrek en die rivier by Wallingford oorgesteek voordat hulle vanuit die noord-weste na Londen beweeg het. Die Engelse leierskap kon net 'n kort tyd lank weerstand bied. Uiteindelik het Londen se leidende burgers hulle in Berkhamstead saam met kerkleiers en adellikes aan Willem onderwerp, alhoewel daar volgens sommige oorlewerings nog gevegte plaasgevind het toe die Normandiese magte Londen bereik het. Ná die besetting van die stad is Willem as koning van Engeland gekroon.
Die Normandiese en Middeleeuse tydperk
wysig
wysig bron
Die Wit Toring van die
Londense Tower
dateer van die laat 11de eeu
In 1067 het Willem 'n oktrooi uitgereik waardeur die Saksiese regte, voorregte en wette bevestig is. Die koning, wat voortaan as Willem die Veroweraar bekend gestaan het, het 'n aantal koninklike vestings langs die Londense Teemsoewer laat bou, waaronder die
Tower of London
Londense Tower
), Baynard en Montfichet se kastele, om die stad teen seeaanvalle deur Wikings te beskerm en opstande te voorkom. Londen se status as selfregerende nedersetting is tydens die heerskappy van koning John in 1199 en 1215 deur verkiesingsregte bevestig.
Westminster Hall, wat vanaf 1097 deur Willem Rufus, die seun van Willem die Veroweraar, opgerig is, sou later die basis vir die Westminster-paleis vorm wat gedurende die middeleeue as belangrikste koninklike setel gedien het. Die koninklike Bermondsey-landgoed is deur Willem in 1089/90 aan Alwinus Child, die stigter van 'n abdy, geskenk, wat hier net teenoor die
White Tower
'n nuwe klooster laat bou het. 'n Ander sakrale gebou, die Augustynse Sint Bartolomeus-die-Grote-kerk, het vanaf 1123 in West Smithfield ontstaan. Alhoewel slegs die kansel van hierdie groot kerkgebou tot vandag toe bewaar gebly het en tans as parogiekerk fungeer, is dit nogtans een van die belangrikste oorblyfsels van Normandiese boukuns in Londen.
Boubedrywighede vir die Londen-brug, deesdae een van die bekendste bakens in die Britse hoofstad, het in 1176 begin. Hierdie steenbrug, wat ouer houtbrûe vervang het, is in 1209 voltooi. Tot in 1739 was dit die enigste brug wat die Teemsrivier oorspan het.
Tudor-tydperk
wysig
wysig bron
Civitas Londinium
, Ralph Agas se kaart van Londen, het tussen 1570 en 1605 ontstaan
St. James-paleis
Gedurende die
Protestantse Hervorming
was Londen 'n vroeë sentrum van Protestantisme in Engeland. Die stad se nou handelsbande met die Protestantse hartland van
Noord-Europa
, groot gemeenskappe buitelandse handelaars, die buitegewoon groot persentasie geletterde inwoners en Londen se rol as sentrum van die Engelse drukkerybedryf het daartoe bygedra dat die idees van kerkhervorming hier vinnig neerslag gevind het. Voor die Reformasie was meer as die helfte van die Londense stadsgebied in besit van kloosters en ander godsdienstige instellings.
Die ontbinding van kloosters op bevel van koning Hendrik VIII het groot omwenteling in Londen gebring aangesien byna alle kerk- en kloosterbesit herverdeel is. Hierdie proses het teen die middel van die 1530's begin, en in 1538 was die meeste groot kloosters al ontbind.
Holy Trinity Aldgate
is deur Lord Audley oorgeneem, die
Charterhouse
deur Lord North, Blackfriars deur Lord Cobham, die St. Giles-melaatsehospitaal deur Lord Dudley, terwyl die koning die St. James-melaatsehospitaal vir homself as
St. James-paleis
laat herbou het.
Onder die regentskap van die Tudor-dinastie het Londen 'n al hoe belangrike rol as een van Europa se groot handelsmetropole begin speel. Handelsbetrekkinge, wat voorheen hoofsaaklik met
Wes-Europa
onderhou is, is uitgebrei tot
Rusland
, die
Levant
en die
Amerikas
. Merkantilisme en groot maatskappye met handelsmonopolies soos die Moskouse Kompanjie (1555) en die
Britse Oos-Indiese Kompanjie
(1600), wat in Londen per koninklike oktrooi gestig is, het hul bloeitydperk beleef. Die laasgenoemde, wat uiteindelik
Indië
sou beheer, was twee en 'n halfeeu lank een van die sleutelinstellings in die Engelse hoofstad en die hele Brittanje. Immigrante, wat hulle in Londen gevestig het, het nou nie net uit Engeland en
Wallis
gekom nie, maar ook vanuit die buiteland na die hoofstad gestroom, soos byvoorbeeld Hugenote uit Frankryk. Die stadsbevolking het gegroei van 'n geskatte 50
000 in 1530 tot sowat 225
000 in 1605. Hierdie aanwas is net soos die groeiende welvaart deur die grootskaalse uitbreiding van kusskeepvaart bevorder.
In die laat 16de en vroeë 17de eeu het ook Londen se toneelbedryf gefloreer, met
William Shakespeare
as die bekendste verteenwoordiger van dramakuns. Die laat regeringsjare van koningin
Elizabeth I
was 'n redelike rustige tydperk waartydens sommige van haar howelinge, net soos welgestelde Londenaars, herehuise vir hulself in landelike gebiede soos
Middlesex
Essex
en
Surrey
laat bou het. Dit was die beginjare van die sogenaamde villa-beweging toe wonings ontstaan het wat nòg as stadshuise gekwalifiseer het nòg op groot plase geleë was. Londen was, toe die Tudors in die 17de eeu uitgesterf het, nog 'n relatief kompakte nedersetting.
Stuart-tydperk
wysig
wysig bron
'n Panoramiese uitsig oor Londen deur Claes Jansz. Visscher, 1616. Die ou Gotiese St. Paul's-katedraal het sy toring al vroeër kwytgeraak. Die twee teaters in die voorgrond, aan die Southwark-kant van die Teems, is
The Bear Garden
en
The Globe
. Die groot kerkgebou in die voorgrond is St Mary Overie, tans die Southwark-katedraal.
Vanaf die 17de eeu het die beboude gebied buitekant die stadsmure uitgebrei. Teen die begin van die eeu was die woontoestande vir die oorgrote meerderheid van die bevolking steeds ongesond en het sterk gekontrasteer met die leefwêreld van adellikes wat vir hulself herehuise in die omgewing van Westminster laat bou het.
Onhigiëniese
toestande het Londenaars indertyd aan 'n verskeidenheid siektes en infeksies blootgestel. So moes die voorbereidinge vir die kroning van koning
James I
weens die uitbreek van 'n verwoestende pesepidemie, waaraan na ramings moontlik dertigduisend inwoners dood is, tydelik gestaak word.
Die kerkskip van die ou St. Paul's-katedraal het in dié tyd bedags as die belangrikste algemene vergaderplek gedien waar handelaars hul goedere in die gange te koop aangebied het, terwyl die doopvont as toonbank gebruik is. Advokate het van hul klante by bepaalde suile ontvang, en werkloses het in die kerk werkgeleenthede kom soek. Die kerkhof van St. Pauls was die middelpunt van Londen se boekhandel, terwyl die omgewing van
Fleet Street
tot 'n gewilde vermaakdistrik ontwikkel het.
Die toneelkuns, wat tydens die regentskap van Elizabeth I hoogtyd gevier het, het reeds onder James I al hoe meer gewilder geraak. Die groot invloed, wat drama- en teaterkuns op die alledaagse lewe uitgeoefen het, blyk uit die feit dat die dra van gesofistikeerde maskers destyds 'n modeverskynsel aan die koninklike hof en in die regswêreld geword het.
Die Groot Plaag van Londen in 1665: die lyke van slagoffers word op karretjies gelaai
In 1625 het
Charles I
die Engelse troon bestyg. Tydens sy regentskap het adellikes hulle in groot getalle in die Londense West End begin vestig. Naas die adellikes, wat aan die koningshof verbonde was, het ook steeds meer adellike grondbesitters uit ander dele van die land saam met hul gesinne 'n deel van die jaar in die hoofstad deurgebring om aan Londen se sosiale lewe deel te neem. Dit was die begin van die tradisionele
London season
Tydens die
Engelse Burgeroorlog
het Londenaars die kant van die parlement gekies. Aanvanklik het die koninklike magte die opperhand in die oorlog gehad, en in November 1642 het die koning 'n oorwinning in die Slag van Brentford enkele kilometer wes van Londen behaal. Nadat die hoofstadbewoners haastig troepe saamgestel het om in die stad teen 'n aanval te kan verdedig, het koning Charles I die aanwending van verdere militêre aksie verwerp en sy troepe aan die hoofstadgebied onttrek. Vervolgens is nuwe uitgebreide versterkings rondom Londen, Westminster en Southwark gebou.
Die koninklike magte het vir Londen geen bedreiging meer ingehou nie, en die hoofstad het finansieel bygedra tot die parlement se militêre oorwinning in die volgende jaar. Charles I is van hoogverraad aangekla en tereggestel. Die monargie is tydelik afgeskaf en 'n kortstondige republikeins-puriteinse bedeling gevestig.
Oorloë was egter nie die enigste bedreiging vir die stadsbewoners nie. Onhigiëniese toestande en oorbevolking was deur die eeue steeds weer die oorsaak van pesepidemieë. In 1665 en 1666 het die
Swart Dood
vir die laaste keer groot verwoesting gesaai – 'n gebeurtenis wat later as die "Groot Plaag" bekend sou staan. Sowat 60
000 Londenaars het aan die aansteeklike siekte beswyk. Die kroniekskrywer
Samuel Pepys
berig in sy dagboek oor die skrikbewind wat die pes in Londen gevoer het: "Ek het in die stad aangebly totdat meer as 7
400 in een week gesterf het, en hiervan het sowat 6
000 aan die plaag beswyk, en doodsklokke was die enigste geluid wat bedags en snags hoorbaar was."
Die Groot Brand van 1666
wysig
wysig bron
Die Monument ter Herdenking van die Groot Brand van Londen
Die Groot Brand van Londen
Skildery deur 'n onbekende Nederlandse kunstenaar
Die Groot Brand van Londen
Skildery deur Philippe-Jacques de Loutherbourg (1797)
Die goue urn van vlamme
'n Model van John Keeling of Blackfriars se 17de eeuse brandweerwa
Museum of London
The Golden Boy of Pye Corner
'n Kaart van die gebied wat deur die brand verwoes is
Sowat 350 jaar gelede was die brandgevaar in Londen nog besonder groot omdat die meeste geboue nie net heeltemal van hout gebou nie, maar ook besonder na aan mekaar gebou is. Londen se strate was só dig bebou dat die boonste verdiepings van woongeboue mekaar byna aangeraak het. Kerse was gewoonlik die enigste vorm van beligting, terwyl oop vure vir verhitting en kookdoeleindes algemeen gebruiklik was. Klein brande het gereeld uitgebreek, maar kon meestal gou in bedwang gebring word.
13
In die vroeë oggendure van Sondag 2 September 1666 het 'n klein brand in Thomas Farriner se bakkery in Pudding Lane uitgebreek nadat die vuur in die bakoond op Saterdagaand blykbaar nie behoorlik geblus is nie. Moontlik het vlieënde vonke uit die oond strooi en houtstapels, wat as reserwebrandstof naby die oond gestoor is, en meelvoorrade aan die brand gesteek. Binnekort was die hele bakkerygebou en aangrensende woonhuise in vlamme gehul.
Dat dié brand totaal buite beheer kon raak, was aan die destydse nalatigheid ten opsigte van die stoor en hantering van ontvlambare materiaal te wyte. Londen was in die 17de eeu die handelspilpunt vir heel Engeland, met die Teemsrivier as 'n besige waterweg waarop groot hoeveelhede goedere op bote vervoer is. Weerskante van die rivier was stoorhuise van vloer tot dak volgepak met hoogs ontvlambare handelsware soos papier, suiker, speserye, tekstiele, toue, olie, alkoholiese dranke, hooi, bouhout en swartkruit. Weersinvloede het ook 'n sekere rol gespeel – die somer van 1666 was net soos dié van die vorige jaar baie warm en droog sodat watervoorrade uitgeput geraak het.
14
Terwyl die brand verder uitgebrei en hele blokke woongeboue en stoorhuise hoog in vlamme gestaan het, het chaotiese tonele op die Teems begin afspeel. Paniek het huisbewoners en handelaars gepak wat hul besittings en ware van die dreigende vlamme probeer red het deur hulle in die rivier te gooi. Londen se nou straatjies was eweneens volgepak met duisende mense wat hul besittings op karre na veiligheid probeer bring het, maar sodoende ook die weg versper het vir die brandbestryders. Londenbrug was tot in die 18de eeu die enigste brug oor die Teems. In 1666 was dit egter nog dig bebou met woonhuise en sodoende té nou om as maklike vlugpad te kan dien. Die heersende windrigtings gedurende die Groot Brand en 'n brandskot op die brug het gekeer dat die vlamme nie langs Londenbrug na
Southwark
kon uitbrei nie.
17de eeuse beskrywings verwys na John Keeling in Blackfriars as die vernaamste vervaardiger van destydse brandweerwaens – houtkarretjies waarop 'n watertenk van hout en 'n pomp gemonteer is. 'n Ander gebruiklike brandbestrydingsmetode in 17de eeuse Londen was om hele blokke woonhuise vinnig af te breek sodat 'n grootskaalse brand nie verder kon uitbrei nie. Londen se brandweertoerusting is in 1666 nog grotendeels in die Sint Magnus-die-Maartelaarkerk gestoor. Ongelukkig was dié kerkgebou digby Thomas Farriner se bakkery geleë sodat dit die tweede kerk geword het wat nog op die eerste aand van die Groot Brand deur die vlamme vernietig is. In historiese oorlewerings word die destydse Lord Mayor, Sir Thomas Bloodworth, as een van die sondebokke vir die omvang van die brandramp-chaos genoem. In die vroeë oggendure van die eerste dag van die Groot Brand is hy wakker gemaak om sy toestemming tot die grootskaalse afbreek van huise te verleen.
Nadat die burgemeester die omvang van die brand met sy eie oë gesien het, het hy – ook uit vrees vir die skadevergoeding wat die eienaars van afgebreekte geboue moontlik kon eis – vasgestel dat die situasie geen besondere maatreëls sou regverdig nie. Volgens die amptenaar Samuel Pepys se dagboekinskrywing het Bloodworth opgemerk dat die omvang van die brand eintlik só klein was dat "'n ou vrou dit sou kon uitpis."
Later die aand het die besorgde koning die inisiatief geneem en die bevel gegee om so veel huise soos nodig af te breek. Op dié stadium het die brand reeds vinniger uitgebrei as brandbestryders huise kon afbreek. Uiteindelik moes geboue met buskruit opgeblaas word. Vanweë die sterk wind, wat tydens die brand gewaai het, het die vlamme langs die Teemsoewer na die middestad uitgebrei. Die brand het vyf dae en nagte gewoed en altesaam 13
200 woonhuise, 87 van Londen se 109 kerke, drie stadspoorte en 52 gildehuise vernietig. Vier vyfdes van die stadsgebied is in puin gelê en sowat 100
000 Londenaars dakloos gelaat. Terwyl die bevestigde dodetal op slegs vier staan, dui berigte van waarnemers op 'n hoër aantal slagoffers.
15
So het moontlik 'n groter aantal gevangenes wat in Londen se tronke vasgeketting was, gestremdes en alleenstaande ouer mense hul lewens verloor.
16
Dit het sowat vyftig jaar geneem om die stad te herbou, en saam met nuwe woonhuise, wat van steen gebou is en sodoende meer bestand teen brande was, het ook die eerste versekeringsondernemings ontstaan.
Tydens en kort ná die Groot Brand was die soeke na sondebokke 'n onversadigbare behoefte by getraumatiseerde Londenaars. Allerhande gerugte was in omloop, en selfs die koning is van brandstigting verdag – moontlik kon hy op dié manier wraak geneem het oor die teregstelling van sy vader. Ook buitelanders –
Iere
Franse
Spanjaarde
en veral
Nederlanders
is verdag aangesien Engeland steeds in die Tweede Nederlands-Engelse Oorlog gewikkel was. Daarnaas was Rooms-Katolieke hoofverdagtes.
Aanvanklik is Thomas Farriner aan strafvordering blootgestel, maar geen aanklagtes is ingedien nie nadat Robert Hubert, 'n Franse horlosiemaker, skuld op brandstigting beken het. Al was sy skuldbelydenis ongeloofwaardig – hy het eers op die tweede dag van die brandramp in Londen aangekom en was moontlik 'n persoon van lae intelligensie wat die betekenis van sy belydenis nouliks kon begryp nie – is hy later tereggestel.
Enkele jare later is daar besluit om 'n monument ter herdenking van die Groot Brand op te rig. Tussen 1671 en 1677 het volgens 'n ontwerp van Sir Christopher Wren en Dr Robert Hooke juis op dié plek, waar St Margaret's as die eerste kerk deur die vlamme verswelg is, 'n monument in die vorm van 'n Doriese pilaar ontstaan wat presies 202 voet (62 meter) hoog en 202 voet van Thomas Farriner se bakkery af geleë was. Die pilaar is met 'n brandende goue urn bekroon wat die Groot Brand versinnebeeld. Die monument staan oop vir die publiek, en besoekers, wat die altesaam 311 trappies opklim, geniet nie net 'n panoramiese uitsig oor die Britse hoofstad nie, maar ontvang ook 'n prestasie-sertifikaat.
'n Tweede monument, die
Golden Boy of Pye Corner
, markeer die plek waar die vuur opgehou het om te brand. Die vergulde houtstandbeeld by die hoek van Giltspur Street en Cock Lane in Smithfield is vernoem na die historiese kroeg
Fortune of War Public House
, wat in die volksmond ook as
Magpie Tavern
bekendgestaan het, en bedoel as 'n waarskuwing vir toekomstige generasies. Baie 17de eeuse Londenaars het immers geglo dat God hulle weens hul vreetsug met die Groot Brand gestraf het.
Londen as Europese wêreldstad
wysig
wysig bron
Toe
Karel II
, wat in April 1661 as koning van Engeland en Ierland gekroon is, op 29 Mei 1660 – sy 30ste verjaardag – in Londen aangekom het, was die Engelse hoofstad moontlik – presiese statistieke ontbreek – die grootste Europese metropool. Dit was nie soseer Londen se status as politieke sentrum en regeringsetel nie, maar sy uitgebreide handelsaktiwiteite wat bygedra het tot die feit dat in die tweede helfte van die 17de eeu reeds 'n disproporsionele persentasie van die Engelse bevolking, waarskynlik 'n tiende, in Londen self en sy satellietstede, wat langs die Teemsvallei begin uitbrei het, saamgetrek was.
Die Georgiaanse tydperk
wysig
wysig bron
Die
Westminster-abdy
in 1749 – skildery deur die Venesiaanse skilder Canaletto (1722−1780)
Die Georgiaanse tydperk was 'n periode van ongekende stedelike groei waartydens Londen – in vergelyking met die metropole van vastelandse Europa – tot 'n uitgestrekte stad met 'n relatief lae bevolkingsdigtheid ontwikkel het wat hoofsaaklik uit enkelgesinshuise bestaan het. Dié ontwikkeling was enersyds aan die afwesigheid van enige vorm van stadsmure of ander versterkings te danke wat die uitbreiding van die beboude gebied sou kon belemmer het. Maar nog belangriker was die byna onbeperkte aanbod van bougrond teen lae koste danksy die gebruiklike langtermyn-pagstelsel.
17
Nogtans het Londen se bevolking in die tydperk tussen 1700 en 1800 gegroei van 600
000 tot een miljoen. Die Britse hoofstad was in dié tyd nie net die grootste metropool op aarde nie, maar het met sy uitgebreide wêreldwye netwerk van handels- en militêre belange alle Europese mededingers by verre oortref. Die Protestantse geloof en die vroeg-kapitalistiese ekonomiese stelsel met sy vrye mark, waar alle goedere – in die destydse tydperk van
slawerny
selfs mense – sonder enige beperkings van staatskant af ver- en gekoop kon word, word algemeen as dryfkragte van Londen se buitengewone groei aangevoer.
Ekonomiese vryhede het gepaard gegaan met vrysinnigheid en nuwe vorme van intellektualisme. Vrygeeste en vrydenkers het aangetrokke gevoel tot Londen, net soos mense wat net op soek was na vermaak. So was Londen in heel Europa berug vir die groot aantal prostituees op sy strate.
Die stad het in 'n spanningsveld tussen ongekende ekonomiese welvaart en die chaotiese toestand van oorbevolking verkeer – sy Middeleeuse infrastruktuur en sy munisipale instellings was juis nie meer in staat om in al die behoeftes van só 'n groot bevolking te voorsien nie. Terwyl welgesteldes die mees gesofistikeerde verbruikersgoedere kon bekostig wat ooit in Europa aangebied is, het baie Londenaars in chroniese armoede geleef.
Demografie
wysig
wysig bron
Bevolkingsgroei
wysig
wysig bron
Lande van geboorte
Bevolking (2011)
18
Verenigde Koninkryk
175
677
Indië
262
247
Pole
158
300
Ierland
129
807
Nigerië
114
718
Pakistan
112
457
Bangladesj
109
948
Jamaika
87
467
Sri Lanka
84
542
Frankryk
66
654
Somalië
65
333
Kenia
64
212
Verenigde State
63
920
Ghana
62
896
Italië
62
050
Turkye
59
596
Suid-Afrika
57
765
Duitsland
55
476
Australië
53
959
Roemenië
44
848
Filippyne
44
199
Siprus
43
428
Portugal
41
041
Litaue
39
817
Volksrepubliek China
39
452
Afghanistan
37
680
Iran
37
339
Spanje
35
880
Uganda
32
136
Brasilië
31
357
Nasa
-Satellietbeeld van Londen
Londen huisves 'n ryk verskeidenheid kulture, en meer as 300 tale word in die stadsgebied gebesig. Met 'n totale bevolking van bykans 8,2 miljoen, of 12,5 persent van die Britse bevolking, in Maart 2011 is Londen die mees bevolkte munisipaliteit in
Europa
. Saam met omliggende nedersettings vorm die Britse hoofstad ook die grootste metropolitaanse gebiede in Europa met tussen 12 en 14 miljoen inwoners. Groter Londen strek oor 1
579
km² en is die mees dig bevolkte van alle administratiewe streke van Engeland met 4
542 inwoners per vierkante kilometer.
Londen het as die politieke, kulturele en ekonomiese sentrum deur die eeue heen vinnige bevolkingsgroei ervaar wat in die 19de en vroeë 20ste eeu nog deur die industrialiseringsproses aangevuur is. Die antieke Romeinse Londinium het reeds in 140 n.C. omtrent 30
000 inwoners getel. Omstreeks 1300 het die plaaslike bevolking op 100
000 gestaan, en in 1801 het dit die eenmiljoenkerf verbygesteek. Londen se bevolking was byna 'n eeu lank, in die tydperk tussen 1831 en 1925, toe New York by die Britse metropool verbygesteek het, selfs die grootste van alle stedelike nedersettings op aarde. Die inwonertal het sy historiese hoogtepunt met meer as 8,6 miljoen kort voor die begin van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 bereik. Daarenteen het die bevolking van die
City of London
vanaf die middel van die 19de eeu steeds verder afgeneem – van 130
000 in 1851 tot slegs 11
700 vandag.
19
Immigrasie
wysig
wysig bron
Brick Lane, 'n lang straat in
Tower Hamlets
in die East End, is in 'n buurt met talle immigrante uit
Bangladesj
geleë. Die straatborde dra opskrifte in Engels en
Bengaals
Straatversierings in Londen se Chinatown
Die Kanadese Hoë Kommissie in die Verenigde Koninkryk is in Kanadahuis op Trafalgarplein gesetel. Meeste van die sowat 70
000 Kanadese burgers in die VK bly in Londen
Londen is, naas
Istanboel
en Moskou, steeds een van die drie grootste metropole in Europa. Immigrasie het naas die natuurlike bevolkingsaanwas 'n beslissende rol by Londen se demografiese ontwikkeling gespeel. So het die netto-resultaat van immigrasie en emigrasie in die dekade tussen 1991 en 2001 'n wins van 726
000 persone getoon.
Londen se East End, 'n gebied wat vroeër met
armoede
misdaad
, buitelandse immigrante en sosiale uitsluiting geassosieer is en intussen tot 'n gewilde woonbuurt herontwikkel word, was van oudsher Londen se smeltkroes van kulture. Hier het mense hulle gevestig aan wie toegang tot die City of London om een of ander rede geweier is. Sy ligging naby die hawe van Londen het van East End 'n tipiese werkersbuurt gemaak.
20
Ná die Normandiese verowering van Engeland in 1066 was Joodse immigrante die eerste buitelanders wat hulle in East End kom vestig het. In 1290 is alle Joodse bewoners van Engeland deur koning Eduard I uit die land verdryf. Eers in 1656 kon Joodse immigrante hulle weer op die eiland vestig. In 1685 het Hugenote as godsdiensvlugtelinge in East End 'n nuwe heenkome gevind, en die 17de eeu was ook die beginpunt van immigrasie uit
Afrika
Han-Chinese
het in die 18de en Indiërs in die 19de eeu gevolg.
Teen die middel van die 19de eeu het sowat 100
000 Iere werk in Londense fabrieke gevind, en in die laat 19de eeu het dieselfde aantal Joodse vlugtelinge uit Rusland en
Pole
na Londen gestroom. In die tyd voor die Eerste Wêreldoorlog was ook sowat 30
000 Duitse immigrante in East End saamgetrek.
In die vroeë 20ste eeu was dit veral Iere, Pole, Italianers en Joodse emigrante uit
Oos-Europa
wat hulle in Londen gevestig het. Sedert 1950 het veral mense uit voormalige Britse kolonies, waaronder Indië,
Pakistan
Sri Lanka
Bangladesj
, die
Karibiese See
en talle Afrikalande geïmmigreer.
Volgens die laaste sensus van 2001 was 6,1 persent van die Londense bevolking van die
Indiese subkontinent
, 5,3 persent uit
Afrika suid van die Sahara
, 4,8 persent uit die
Karibiese Seegebied
en 1,1 persent uit China afkomstig. 72,9 persent van die inwoners was in die Verenigde Koninkryk gebore, 5,3 persent in lidstate van die Europese Unie en 21,8 persent in ander lande. Die persentasie Londenaars, wat in die buiteland gebore is, is in 2012 op meer as 'n derde beraam (teenoor slegs agt persent in die res van die land).
21
Twee vyfdes van alle migrante in die Verenigde Koninkryk is in Londen saamgetrek.
Minder streng regulasies vir ekonomiese bedrywighede het daartoe gelei dat ook baie burgers van EU-lidstate hul sake in Londen doen. So het die aantal Franse burgers tot tussen 300
000 en 400
000 gegroei sodat Londen die sesde grootste Franse stad geword het. In stadsdele soos Kensington en
Chelsea
het meer as vier persent van die bewoners 'n Franse paspoort.
22
Behuising
wysig
wysig bron
Barbican Estate
, 'n hoëdigtheid-behuisingskompleks uit die 1960's in die City of London
'n Relatief groot persentasie van Londen se bestaande behuising dateer van die 19de en 20ste eeu en beskik net oor dun enkelverglasing sonder voldoende dak- en muurisolering.
23
Binne die bestek van sy
Green Deal
-program stel die Britse regering tans lenings vir die energiebesparende opgradering van ouer woonstelle en woonhuise beskikbaar.
24
Nuutgeboude wonings moet vanaf 2016 koolstof-neutraal wees.
Terwyl huispryse in die Verenigde Koninkryk in die eerste dekade van die 21ste eeu verdubbel het, word die Londense eiendomsmark as gevolg van binne- en buitelandse migrasie meer nog as dié in ander stede en streke deur buitensporige prysverhogings en 'n knellende behuisingstekort gekenmerk. Huurgelde vir woonstelle het tussen 2012 en 2013 met meer as tien persent gestyg en beloop tans 'n gemiddeld van meer as ₤1
000 per maand. Die gemiddelde huisprys in Londen het in Junie 2014 ₤500
000 beloop.
25
Om die behuisingstekort te verlig, word ou nywerheidsgeboue en selfs kerkgeboue in Londen in moderne woonstelkomplekse omgeskep. Belangrike vlagskipprojekte in dié verband is die ou termiese kragsentrale in die stadsdeel
Battersea
suid van die Teemsrivier waar teen 'n koste van sowat £8 miljard woon- en kantooreenhede sal ontstaan. Dieselfde bedrag word in Earls Court, 'n stadsdeel in die Royal Borough of Kensington & Chelsea, belê waar woon- en kantoorgeboue op 'n uitgestrekte terrein opgerig sal word. Aangesien die terrein vroeër vir uitstallings en konserte en in 2012 ook vir wedstryde van die Olimpiese Spele gebruik is, is baie Londenaars steeds gekant teen dié bouprojek.
'n Ander omstrede voorstel is om beperkings op voorstedelike ontwikkeling op te hef en dele van Londen se Groen Gordel te bebou. Dié gordel is in die 1940's geskep om die natuurlike omgewing teen die ongekontroleerde uitbreiding van woongebiede te beskerm. Dit is met 1
900 vierkante myl drie keer so groot as die beboude gebied wat deur die gordel omsluit word (600 vierkante myl).
26
Stadsdele, waar vroeër tradisioneel bewoners uit laer inkomstegroepe gehuisves is, is reeds in die jare ná die Tweede Wêreldoorlog deur
gentrifikasie
geraak. In stadsdele, wat aan die City of London grens soos Islington, het huiskopers uit die middelklas al vroeg begin om ou woongeboue te renoveer. Die nasionale en Londense beleid van stadsontwikkeling, waarvolgens kwartiere soos die East End deur nuwe bouprojekte geregenereer word, het sedert die 1980's steeds meer welgesteldes na die sentrale stadsdele gelok en sodoende ook hier armer bewoners uit hul woonbuurte verdring.
Ekonomiese basis
wysig
wysig bron
Ekonomiese spilpunt van die Verenigde Koninkryk
wysig
wysig bron
Residensiële geboue langs die Teems in St George Wharf, met die
St George Wharf Tower
aan die regterkant
Statistieke dui daarop dat die ekonomiese ewewig in die Verenigde Koninkryk steeds meer na Londen verskuif het. So is 44 persent van alle Britse beleggings in infrastruktuur in die hoofstad gekonsentreer, terwyl die belastinginkomste, wat deur die Londense ekonomie gegenereer word, in reële waarde tussen 2004/5 en 2014/5 met 25 persent of £28 miljard gegroei het. In vergelyking daarmee het belastinginkomste in Manchester slegs met een persent toegeneem, terwyl dié inkomste in ander groot stede soos Birmingham, Glasgow en Leeds selfs merkbaar gedaal het.
In 2014/5 is 30 persent van die Britse inkomste uit sogenaamde ekonomiese belasting – belasting op inkomste, grondbesit en eiendomme – in Londen gegenereer.
27
28
Internasionale handelsentrum
wysig
wysig bron
Die
Royal Exchange
in die City of London
Ten minste vanaf die Tudor-tydperk het Londen as internasionale handelsentrum sy stempel op die Britse en Europese ekonomie begin afdruk.
Hierdie status is in 1570 bevestig toe Thomas Gresham die Londense
Royal Exchange
gestig het. In die volgende eeu sou Londen ten opsigte van sy handelsaktiwiteite by die res van die land verbysteek – met 'n bevolking van 'n halfmiljoen was die hoofstad die onbestrede metropool. Die destyds naasgrootste nedersetting in Engeland, Norwich, het slegs 30
000 inwoners getel.
29
Britse handelsaktiwiteite is in die agttiende eeu danksy die binnelandse vraag na
suiker
tee
tabak
en
koffie
uit Amerika en
Asië
asook hout uit Noord-Europa (verbruikersgoedere wat vervolgens ook na die vasteland van Europa uitgevoer is) en die beskermde oorsese markte vir Britse uitvoergoedere in die kolonies in Noord-Amerika en Afrika in 'n ongekende mate uitgebrei, en dit was veral Londen wat voordeel uit hierdie handel kon trek. As magtigste seemoondheid ter wêreld kon Groot-Brittanje sy koloniale handelsbetrekkinge ook ná die verlies van Amerika uitbrei, so onder meer na Kanada, Wes-Indië en Indië.
Londen het sy ekonomiese welvaart destyds onder meer aan sogenaamde koloniale goedere te danke gehad – naas voedsel en dranke het ook
katoen
, kleurstowwe en gekleurde en bedrukte tekstiele 'n belangrike rol gespeel. Die
Royal Exchange
was die ekonomiese middelpunt van Londen waar handelaars en gespesialiseerde makelaars byeengekom het.
Londen as Wêreldstad
wysig
wysig bron
Die
Koningin Elizabeth Olimpiese Park
in die Laer Lea-vallei, een van die vlagskipprojekte van stadsvernuwing in die ooste van Londen, het naby die historiese sentrum van die stadsdeel Stratford ontstaan
Kantoorgeboue in
Canary Wharf
Die middestad in April 2014, soos gesien vanuit 'n
warmlugballon
Uitsig oor die middestad van Londen vanaf
Parliament Hill
in
Hampstead Heath
Londen kan al meer as twee en 'n half eeue lank aanspraak op die status van wêreldstad maak nadat Groot-Brittanje vanaf die laat 18de eeu tot 'n politieke en ekonomiese
groot moondheid
ontwikkel het. Groot dele van die wêreld is as deel van die Britse Ryk vanuit Londen oorheers en geadministreer. Maar selfs ná die val van die Britse Ryk in die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog het die Britse metropool daarin geslaag om sy status as globale stad te handhaaf en is sy rol as episentrum van die wêreldekonomie deur die proses van globalisering nog verstewig.
Die opening van die sogenaamde Euromarkte in die 1960's was 'n eerste stap in die rigting van ekonomiese modernisering in die
City of London
. Veral sedert die middel van die 1980's het Londen as gevolg ekonomiese prosesse en besluite soos die deregulasie van finansiële markte ingrypend verander nadat talle buitelandse banke en ander finansiële ondernemings hulle in die Britse hoofstad gevestig het. Londen het sedert 1986 – die jaar waarin met die liberalisering van die Londense effektebeurs begin is – naas New York en Tokio tot een van die drie belangrikste finansiële sentrums ter wêreld ontwikkel. Meer as 500 banke het hulle hoofkwartier in die stad, waaronder ook
The Hongkong and Shanghai Banking Corporation
, die grootste Europese bank.
Alhoewel die Verenigde Koninkryk nie self lid is van die sogenaamde Europese Unie en die Eurosone nie, hanteer Londen se banke meer transaksies in
Euro
as enige stad op die Europese vasteland. Naas finansies het ook ander bedrywe in die tersiêre sektor in hierdie tydperk sterk groei getoon, terwyl nywerhede minder belangrik geword het. 'n Aantal verlate nywerheidsterreine, sogenaamde
brownfields
, getuig nog van hierdie proses van deïndustrialisering.
Vervaardigingsbedrywe speel 'n steeds minder belangrike rol in Londen se ekonomie en het tans nog sowat 'n tiende van alle werknemers in diens. Uitgewerye en drukkerye is die grootste werkgewers in die produserende sektor, met 'n kwart van hierdie sektor se werksgeleenthede in dié bedryf. 'n Derde van die totale industriële produksie word deur hulle opgelewer.
Die plaaslike hoëtegnologiebedryf het hom op elektroniese en farmaseutiese produkte toegespits. Die ligte nywerheidsektor word deur tekstielfabrieke en brouerye oorheers. Baie nywerhede, wat hoofsaaklik in die buitewyke geleë is, toon 'n neiging om hulle buite Londen te hervestig.
Die ekonomiese veranderings word in Londen se arbeidsmark en die sosiale struktuur van sy beroepsbevolking weerspieël. Dit was veral die hoër middelklas wat voordeel uit die groter aantal gekwalifiseerde werkgeleenthede kon trek. Minder goed opgeleide Londenaars moet 'n heenkome in dié dele van die dienstesektor vind wat met lae lone geassosieer word. Al kan daar vandag nie meer sprake wees van 'n welvarende West End en 'n arm East End nie en het voormalige werkersklasbuurte intussen tot gewilde woonkwartiere vir nuwe elites ontwikkel, kontrasteer in baie stadsdele welvarende kwartiere met dié van lae-inkomstegroepe.
Die oostelike stadsdele, wat twee eeue lank op nywerhede en die hawe gesteun het, het sedert die 1980's hul oorspronklike werkersklaskarakter toenemend kwytgeraak. Stadsvernuwing is deur 'n aantal vlagskipprojekte soos die ontwikkeling van die Lea Valley as die toneel van die
Olimpiese Somerspele in 2012
teweeg gebring.
30
Trekpleister vir toeriste en beleggings
wysig
wysig bron
Na
Old Street Roundabout
word dikwels as
Silicon Roundabout
of
East London Tech City
verwys
Nadat visavereistes vir Chinese toeriste deur die Britse regering verslap is, het in 2013 'n rekordgetal van 16,8 miljoen besoekers na Londen gestroom – 'n styging van nege persent teenoor die vorige jaar. Londen het sodoende die gewildste toeristestad ter wêreld geword – nog voor
Bangkok
(15,9 miljoen besoekers), Parys (13,9 miljoen) en New York (11,9 miljoen). Volgens die nasionale statistiekburo ONS het toeriste ₤12,7 miljard (€13,7 miljard) vir hul hotelverblyf, restaurantbesoeke, inkopies en toere bestee – meer as die €13,4 miljard wat besoekers in 2013 in New York bestee het.
31
Londen se aantreklike eiendomsmark, wat goeie waarde vir 'n belegging bied, en relatief lae belastingtariewe wek die belangstelling van buitelandse beleggers. Veral welvarende sakelui uit die Russiese Federasie, die Nabye en die
Midde-Ooste
asook ander dele van Asië belê miljoene in eiendomme en stig nuwe ondernemings in die Britse hoofstad. Terwyl die sogenaamde
Silicon Roundabout
('n bynaam vir
Old Street Roundabout
) in
Shoreditch
, waar baie Britse internet-ondernemings saamgetrek is, intussen ook aantreklik geword het vir buitelandse ondernemings uit die hoëtegnologiebedryf, belê ondernemings uit die
Verenigde State
en die
Volksrepubliek China
miljarde in nuwe bouprojekte.
Chinese beleggers was in Mei 2014 by projekte ter waarde van meer as ₤3 miljard betrokke, waaronder die historiese Royal Albert Docks wat deur die Chinese maatskappy
ABP
in 'n moderne besigheidspark omgeskep word, en 'n nuwe hotel in Nine Elms, wat deur die Chinese
Wanda
-groep teen 'n koste van ₤700 miljoen opgerig word.
Die Londense ekonomie en kultuurbedryf ná die Brexit-referendum
wysig
wysig bron
Londen se hoogs ontwikkelde finansiële netwerk is nie beperk tot indrukwekkende kantoortorings nie. Die foto wys
The Gherkin (30 St Mary Axe)
(op die voorgrond) en Canary Wharf (in die agtergrond)
Op 23 Junie 2016 het 'n algehele meerderheid van Britse kiesers (51,9 persent) hulle teen die Verenigde Koninkryk se voortgesette lidmaatskap in die Europese Unie uitgespreek. Al het kiesers in Londen merendeels (met sowat 60 persent) ten gunste van die status quo gestem (in kiesafdelings in die middestad is die hoogste persentasies stemme ten gunste van 'n voortgesette lidmaatskap aangeteken
32
), sal Londen se ekonomie – en hier veral die banksektor – deur die sogenaamde
Brexit
geraak word. So het sommige banke gedreig om werkgeleenthede na die Europese vasteland uit te plaas, terwyl ook beleggers besorgd is oor die Britse finansiële bedryf se ekonomiese vooruitsigte aangesien dit dreig om die sogenaamde EU-paspoort vir finansiële instellings te verloor – die reg vir banke en ander instellings met setel in Londen om finansiële produkte, wat aan EU-regulasies onderworpe is, in die hele Europese Unie aan te bied.
Londen se finansiële sektor het egter in die vroeë 21ste eeu 'n merkwaardige transformasie ondergaan. Die Britse hoofstad is een van min finansiële spilpunte in Europa waar duisende nuwe ondernemings, sogenaamde
FinTechs
('n afkorting van
financial technology
), 'n grootskaalse omwenteling in die bankbedryf begin het. Min van dié ondernemings bied finansiële produkte aan wat aan regulasie onderworpe is. Digitalisering en desentralisering staan sentraal in nuwe sakemodelle waarin tradisionele groot bankondernemings soos Goldman Sachs deur innovatiewe sagteware vervang word. So word na Londen intussen as die "Silicon Valley van die bankbedryf" verwys. 'n Newe-effek van dié datagedrewe omwentelingsproses is die potensiële uitskakeling van bedrieglike transaksies.
33
Behalwe sy rol as Europa se finansiële spilpunt, handhaaf Londen hegte ekonomiese en kulturele bande met die Europese vasteland. Meer as 'n vyfde van Europa se grootste ondernemings het hul hoofkwartier in die Britse hoofstad, terwyl ook byna 'n miljoen burgers van EU-lidstate hulle hier gevestig het.
34
Londen se ontwikkeling tot 'n ekonomiese spilpunt vir Europa het gepaard gegaan met sy reputasie as kulturele sentrum. Volgens Paul Owens, direkteur van die
World Cities Cultural Forum
(wat gegewens oor meer as dertig metropole op ses vastelande verskaf), is die stad se breë kulturele aanbod ongeëwenaar – nie net vanweë sy omvang nie, maar ook danksy sy verskeidenheid en dinamisme – dit kombineer eersterangse museums, kunsgalerye en ander instellings met 'n media- en vermaakbedryf wat op die wêreldmark gerig is, en 'n groot breinpoel van kreatiewe entrepreneurs en kunstenaars asook 'n florerende naglewe.
34
Met 'n mannekragbasis van 'n halfmiljoen, 'n jaarlikse omset van £34 miljard en 'n groeikoers wat twee keer so groot is as dié van die ekonomie as geheel is die kreatiewe bedryf 'n belangrike rolspeler in die hoofstadekonomie. Nogtans is dit aangewese op diversiteit en buitelandse werknemers. Dieselfde geld vir Londen se onderwyssektor wat van die stad die onbestrede Europese spilpunt vir navorsing en akademiese opleiding maak. Londen se veertig universiteite en ander akademiese instellings met altesaam 400
000 studente (waarvan sowat 'n kwart uit die buiteland) dra met 'n jaarlikse omset van £7 miljard by tot die nasionale ekonomie.
34
Vervoer
wysig
wysig bron
London Underground
– die moltreinnetwerk
wysig
wysig bron
Met die bou van moltreinlyne in die buitewyke deur
Metropolitan Railway
kon Londenaars hul droom van 'n huis in 'n groen voorstad verwesenlik.
Titelblad van die Metro-Land-gids wat in 1921 gepubliseer is
Die moltreinnetwerk se kenteken het ikoniese status bereik
Londen se moltreine het hul bynaam
tube
aan die kringvormige laeprofieltonnels uit die begintyd van die netwerk te danke
Baker Street-stasie
Roltrappe in Canary Wharf-stasie
Die geskiedenis van Londen se moltreinnetwerk dateer terug tot 1863 toe die eerste ondergrondse spoorlyn ter wêreld, die
Metropolitan Railway
, met ses stasies tussen Paddington en Farringdon geopen is.
35
Die netwerk het intussen gegroei tot elf lyne met altesaam 270 stasies wat Sentraal-Londen, die voorstede en selfs gebiede buite Groter Londen bedien.
Die ontwikkeling van Londen tot die leidende wêreldstad in die 19de, 20ste en 21ste eeu sou ondenkbaar gewees het sonder die mobiliteit wat die uitgestrekte moltreinnetwerk aan Londenaars verskaf het. Die grootste deel van moltreinlyne in Sentraal-Londen is reeds in die eerste vyftig jaar danksy die inisiatief van privaat ondernemings voltooi. In dié tyd is die eerste roetes deur arbeiders gebou wat vlak tonnels langs bestaande bogrondse hoofpaaie gegrawe het. Passasierwaens is destyds nog deur
stoomlokomotiewe
getrek sodat die moltreinlyne met talle luggate voorsien is waar die rook en stoom kon ontsnap. Waens het aanvanklik ook nog nie oor vensters beskik nie – volgens die beplanners was daar immers niks te sien tussen die stasies nie.
Eers omstreeks 1900 het die ontwikkeling van elektriese trekkragtoerusting die bou van dieper en groter tonnels in die middestad moontlik gemaak en 'n nuwe uitbreidingsfase vir Londen se moltreinnetwerk ingelui.
In die volgende vyf dekades het die fokus na die uitbreiding van bestaande lyne tot in die voorstadgebiede verskuif. Baie voorstede het eers ontstaan nadat moltreinlyne voltooi is, en dit was juis spoorwegmaatskappye wat hulle ontwikkeling voortgedryf het. Sodoende het Londen se voorstede die bynaam
Metroland
gekry. Die verskillende privaat ondernemings, wat elkeen hul eie lyn bedryf het, is in 1933 genasionaliseer en in 'n enkele liggaam, die
London Passenger Transport Board
, saamgesmelt.
Die eerste nuwe lyne in Sentraal-Londen het eers sowat sestig jaar later ontstaan. In 1968 is die Victoria-lyn geopen, en elf jaar later het die Jubilee-lyn gevolg. Die laasgenoemde lyn is in 1999 verleng tot by Londen se Docklands – 'n projek wat 'n sentrale rol in die herontwikkeling en groei van die nuwe sakedistrik Canary Wharf in Oos-Londen gespeel het.
In 2003 het
London Underground
'n dogtermaatskappy van
Transport for London
geword wat in die vroeë 21ste eeu sy ambisieuse en omvattende opknappingsprogram – die
Tube Improvement Plan
– van stapel gestuur het. Bestaande stasies is omgebou en gemoderniseer, spoorlyne opgegradeer om vinniger en meer betroubare dienste met korter intervalle aan te bied, 'n Ander doelwit, wat in 2014 nog net gedeeltelik verwesenlik is, was die verskaffing van traplose toegang tot stasies om in die behoeftes van rolstoel-passasiers te voorsien.
Vinnig groeiende passasiersgetalle het daarnaas die volledige herbouing van sekere moltreinstasies in Sentraal-Londen nodig gemaak. In 2013/14 het passasiers altesaam 1,265 miljard ritte onderneem – meer as twee en 'n half keer so veel as die 498 miljoen ritte wat in 1982 onderneem is (toe die getal moltreinpassasiers sy laagste vlak sedert die Tweede Wêreldoorlog bereik het).
Busnetwerk
wysig
wysig bron
Londen se ikoniese Routemaster-busse is lankal buite diens gestel, behalwe vir twee sogenaamde Erfenisroetes
Kenteken van TfL se
London Bus Services
by 'n bushalte in die
City of London
'n Moderne dubbeldekbus van
London United (LT)
op die busroete 10 in
Oxford Street
Toe Londen se openbare vervoerstelsel in 1933 onder die beheer van die
London Passenger Transport Board (LPTB)
gekom het, het die plaaslike busnetwerk Groter Londen en groot dele van aangrensende graafskappe gedek. Dié netwerk is deur 'n uitgebreide trem- en
trolliebusstelsel
aangevul. In 1952 is alle tremdienste gestaak, en 'n dekade later het ook Londen se trolliebusse verdwyn. Hulle is deur busroetes vervang.
36
Tussen 1970 en 1984 het
London Transport (LT)
regstreeks onder die beheer van die Groter Londenraad (
Greater London Council
) geval wat die uitgebreide busnetwerk aangepas en verklein het. 'n Klein aantal busdienste in verder afgeleë gebiede het egter voortbestaan.
Met die Wet oor Londen se Streeksvervoer van 1984 (
London Regional Transport Act
) het die vervoerstelsel onder die beheer van die Britse regering gekom. Om die doeltreffendheid en mededingendheid van die stelsel te verseker, is dogtermaatskappye gestig en privaat diensverskaffers toegelaat. Busdienste buite Londen is in 1985 gedereguleer sodat enige gelisensieerde diensverskaffer aansoek kon doen om 'n bepaalde busroete te bedien, selfs al was daar 'n reeds 'n ander verskaffer op dié roete.
In dieselfde jaar het
London Transport
die dogtermaatskappy
London Buses Limited (LBL)
gestig om sy busdienste te bestuur. Londen se busnetwerk is een van die grootstes en mees toeganklikes ter wêreld. Tans bedien 'n vloot van 8
600 busse sowat 700 roetes met 19
500 bushaltes. Londen se busse vervoer daagliks sowat 6,5 miljoen passasiers – meer as in die hele res van Engeland.
37
'n Dogtermaatskappy van
Transport for London (TfL)
London Bus Services Ltd
, beplan busroetes, lê diensvlakke op roetes vas en hou wag oor die gehalte van dienslewering. Daarnaas val vyftig busstasies en Londen se bushaltes onder sy beheer. Die meeste busroetes word tans deur privaat ondernemings bedien. Die dienskontrakte, wat deur TfL per openbare tender aan hulle toegeken word, word deur
London Bus Services
bestuur. 'n Klein aantal roetes word op kommersiële basis bedryf deur ondernemings aan wie 'n dienspermit hiervoor toegeken is.
Na aanleiding van 'n aantal jubileums wat in 2014 gevier is – die ikoniese Routemaster-bus se 60ste, die RT-tipe-bus se 75ste en die wêreld se eerste massavervaardigde bus, die B-tipe of
Battle Bus
(wat sy naam aan die troepe te danke het wat dit gedurende die Eerste Wêreldoorlog na die frontlinies vervoer het) se 100ste bestaansjaar – het
Transport for London
en die
London Transport Museum
dié jaar tot die Jaar van die Bus verklaar. 'n Verskeidenheid uitstallings en ander aktiwiteite het die belangrike rol, wat Londen se busse vir die mobiliteit, sosiale vooruitgang en groeiende ekonomie van die Britse hoofstad gespeel het.
Lughawens
wysig
wysig bron
Heathrow is die enigste van Londen se vyf lughawens wat sedert 1977 per moltrein (
Piccadilly Line
) bereik kan word. Die ander lughawens word per trein of bus met die middestad verbind
Die Britse hoofstad is een van die grootste lugspilpunte ter wêreld en word deur altesaam vyf lughawens bedien ('n verdere lughawe,
London Southend
, is oos van die metropool geleë). Saam hanteer hulle meer passasiers en bedien hulle meer internasionale roetes as enige ander lugspilpunt.
Behalwe vir
Heathrow
en
London City Airport
is alle lughawens buite Groter Londen geleë. Heathrow is tans die wêreld se besigste lughawe waar die bestaande kapasiteit al jare lank oorbelas word, terwyl die meeste internasionale roetes vanaf
Gatwick
bedien word.
Stansted
is 48
km noordoos van Londen. Die
Not For Tourists Guide to London 2015
is allesbehalwe gaande oor Luton-lughawe:
"...calling Luton Airport an 'Airport' is pushing it: the reality is it's one huge shit pit that airplanes depart and arrive from occasionally."
38
Strawwe mededinging het 'n soort paradys vir Londense toeriste laat ontstaan – hulle betaal tans van die laagste vlugpryse ter wêreld. Dieselfde geld egter – met uitsondering van sekere Europese roetes – nie vir vlugte na Londen nie.
Argitektuur
wysig
wysig bron
Londen se unieke argitektoniese erfenis is oor 'n tydperk van meer as 2
000 jaar gevorm. Anders as in die geval van Parys, waar baron Haussmann in opdrag van keiser Napoléon III in die tweede helfte van die 19de eeu groot dele van die middestad herbou het, het monarge en politici hier, wat stadsbeplanning betref, nouliks hul invloed laat geld. So het die inisiatief vir uitbreiding en hernuwing meestal uitgegaan van die privaat sektor.
'n Stadlandskap volgens die klassieke styl wat sy inspirasie in antieke Griekeland en Rome gevind het, as Barok- en Renaissance-boukuns, maar steeds aangepas is by die Engelse smaak, met elegante pleine en halfmaanvormige gebouekomplekse, het tussen 1600 en 1830 in die West End van Londen ontstaan. Middeleeuse, Tudor- en Victoriaanse boukuns het hul stempel met kenmerkende ontwerpe op hele stadsbuurte afgedruk, veral in die City of London en die East End.
Min strukture dateer uit die tyd voor die Groot Brandramp van September 1666, waaronder die oorblyfsels van die 2de eeuse Romeinse stadsmuur, die Londense Tower, die Westminster-abdy, die
Groot Saal
van Hampton Court (1536) en die argitek Inigo Jones se meesterwerk,
Banqueting House
in Whitehall.
39
Die laasgenoemde deel een kenmerk met talle ander bekende geboue in Londen en die Britse eilande – dit is van portlandsteen gebou, 'n wit-grys natuursteen wat in steengroewe op Portland-eiland in Dorset ontgin word. Dit is maklik herkenbaar as die boumateriaal vir onder meer die Westminster-paleis, die Londense Tower, die
Buckingham-paleis
, die
Britse Museum
en die Bank van Engeland-gebou.
Renaissance en Barok
Inigo Jones:
Banqueting House
, Whitehall-paleis
Inigo Jones, 'n boorling van Smithfield, was 'n baanbreker vir die gesofistikeerde Italiaanse Renaissance-boukuns en die elegante simmetrie wat kenmerkend vir boumeesters soos Andrea Palladio was. Jones het met sy ontwerpe 'n belangrike rol by die ontwikkeling van Covent Garden gespeel, veral met sy Piazza (1631–1639) en Londen se eerste twee geboue in die Palladiaanse styl,
Banqueting House
(1619–1622) en
Queen's House
in Greenwich.
Sir Christopher Wren (1632–1723), wat sy wetenskaplike opleiding aan die Universiteit van Oxford ontvang het, is ná die Groot Brandramp as direkteur-generaal vir die heropbou van Londen benoem. Hy staan vandag veral bekend vir sy sakrale boukuns. Die torings van sy kerke vorm die raamwerk vir 'n uitsig oor die middestad waarin die koepel van die St. Paul's-katedraal – 'n gestandaardiseerde weergawe van sy beroemde eweknie in Rome, die Sint Pieterskerk, wat aan St. Paulus as beskermheilige van Londen gewy is – sentraal staan. Wren het vir sy ontwerpe gebruik gemaak van klassieke Renaissance-elemente wat in Londen se middeleeuse stadskern ingepas moes word.
Wren het daarnaas ook 'n aantal wêreldlike geboue ontwerp soos die
Royal Naval Hospital
in Greenwich (1696–1702) en die Koninklike Hospitaal in Chelsea (1681–1691). Wren het naas sy assistent Nicholas Hawksmoor, wat 'n aantal kerkgeboue soos St. Mary Woolnoth (1716–1724) geskep het, ook invloed op ander argitekte soos James Gibbs, 'n leidende verteenwoordiger van die Engelse Barokstyl, uitgeoefen wat met St. Martin-in-the-Fields (1722–1726) 'n geslaagde kombinasie van Renaissance- en Barokelemente geskep het. Sy toring kontrasteer met die hoofgebou wat op 'n antieke tempel lyk.
Georgiaanse periode
Carlton House Terrace
In die Georgiaanse periode het boumeesters die reëls en konvensies van klassieke boukuns hervat, soos uit die ontwerp vir die Palladiaanse Chiswick-huis (1725–1729) blyk. Die tuin vir hierdie gebou, wat in die gelyknamige voormalige dorp aan die Teemsoewer ontstaan het, is deur William Kent geskep.
Kenmerkend vir hierdie stylperiode is die Georgiaanse terrashuise waarmee Robert Adam (1728–1792) bekendheid verwerf het. Sy ontwerpe deel elegante fasades as hul unieke stylelement. Die
Regency
-argitek John Nash (1752–1835) het dié elemente in die laat Georgiaanse tydperk ingespan om 'n elegante voorkoms aan die stadsbeeld van die middestad te gee. Sy mees ambisieuse plan het voorsiening gemaak vir 'n
Royal Mile
("Koninklike Myl") wat vanuit die prins-regent se woning in Carlton-huis tot
Regent's Park
sou strek.
Carlton House Terrace
(1827–1832) en
Park Crescent
(1812–1822) in
Regent Street
gee steeds 'n indruk van sy visie wat later, in die 1820's en 1830's, deur Thomas Cubitt se terrashuise en halfmaanvormige strukture in Belgravia en Chelsea voortgesit is.
Victoriaanse periode
St. Pancras-stasie, soos gesien vanaf Euston-straat
Cabot Square, Canary Wharf
Die morele waardes van die
Victoriaanse tydperk
is in 'n aantal kerkagtige ontwerpe soos dié vir die
Houses of Parliament
(Parlementsgebou) weerspieël wat tussen 1840 en 1850 volgens planne van Sir Charles Barry en Augustus Pugin ontstaan het. Die Victoriaanse styl, wat later as
Gothic Revival
(Gotiese Herlewing) bekend sou staan, het nogtans ook fantasievolle elemente ingesluit soos uit sy Sir Gilbert Scott se ontwerp vir St. Pancras-stasie met sy toringspitse (1868–1874) blyk.
Die regentskap van koningin Victoria was daarnaas 'n tydperk van tegnologiese vooruitgang en asemberowende prestasies – en die begin van die spoorwegtydperk. Siviele ingenieurs het 'n beslissende rol by die ontwerp van strukture soos Paddington-stasie (1850–1854) gespeel. Gietyster en glas was gewilde boumateriale vir geboue soos Decimus Burton se konservatorium in Kew Gardens (1844–1848).
20ste en 21ste eeu
Baie voorbeelde van 20ste eeuse argitektuur het nie onmiddellik byval gevind by die publiek nie, maar is eers dekades later gewaardeer soos die industriële boukuns van die 1920's en 1930's wat strukture soos die Art Deco-
Hoover-fabriek
in Western Avenue, Perivale en die Battersea-kragsentrale (1939) opgelewer het. Berthold Lubetkin (1901–1990), 'n Russiese emigrant, het die ontwerpgroep
Tecton
in die lewe geroep wat onder meer deur Le Corbusier vir hul behuisingskompleks
Highpoint Flats
(1936) in
Highgate
, 'n voorbeeld van
Internasionale Styl-boukuns
, geprys is.
Na-oorlogse projekte in Londen was dikwels omstrede, soos Richard Seifert se veelverdieping-kantoorgebou
Centre Point
(1966) in Oxford-straat en Denys Lasdun se
National Theatre
(1967–1977) wat deel uitmaak van die South Bank-kompleks. In sommige dele van die stadsgebied is daar beperkings ten opsigte van die aantal verdiepings van nuwe projekte sodat die uitsig op bekende bakens soos St. Paul's-katedraal en ander historiese geboue nie belemmer word nie.
Nogtans het ook in die historiese middestad 'n aantal wolkekrabbers ontstaan soos die Lloyd's-gebou, Richard Rogers se gewaagde futuristiese hoofkwartier vir die assuransie-maatskappy
Lloyd's of London
Norman Foster
se
30 St Mary Axe
, wat intussen 'n ikoniese simbool van Londen geword het; en
Renzo Piano
se
The Shard
(2012) wat met 72 verdiepings tans die rekord vir die hoogste gebou in Europa hou. Buite die City of London is wolkekrabbers veral in Londen se tweede belangrikste finansiële distrik
Canary Wharf
opgerig.
Ander bekende voorbeelde van moderne argitektuur in Londen sluit
City Hall
in Southwark, die Britse Biblioteek (
British Library
) in Somers Town/Kings Cross en die O
Arena aan die Teemsoewer oos van Canary Wharf in. Die aantal veelverdiepinggeboue in aanbou en beplande projekte het volgens navorsing deur die forum
New London Architecture
en die eiendomskonsultante GL Hearn in 2018 'n nuwe rekordvlak bereik. 510 nuwe torings met meer as twintig verdiepings was in 2018 in die beplanningsfase. 155 was reeds in aanbou.
40
22 Bishopsgate
, wat oorspronklik die bynaam
the Pinnacle
en later, nadat boubedrywighede tydelik gestaak is,
the Stump
genoem is die hoogste wolkekrabber in die
City of London
wees met 62 verdiepings en 'n hoogte van 278 meter. Dit sal na verwagting gedurende die 2020's verbygesteek word deur
1 Undershaft
, ook bekend onder sy bynaam
the Trellis
, met 'n hoogte van 290 meter. Twee van Europa se hoogste residensiële toringgeboue sal na verwagting in 2020 voltooi wees – die
Landmark Pinnacle
op die eiland Isle of Dogs (met 233 meter) en die
Spire London
, eweneens in Canary Wharf, met 235 meter.
Rekenaargesteunde ontwerp gee nuwe moontlikhede aan argitekte wie se geboue nie meer beperk moet bly tot die ou tekenbord se strukture met regte hoeke nie. Laat 20ste en vroeë 21ste eeuse boukuns word gekenmerk deur oopheid en ligtheid, nuwe materiale en kleurvolle fasades.
Highpoint I
(1935)
Centre Point (1966)
National Theatre
(1976)
Lloyd's-gebou (1978–86)
30 St Mary Axe
(2004)
Arena (2007)
7 More London Riverside (2010)
The Shard
(2012)
22 Bishopsgate, die hoogste wolkekrabber in die
City of London
Sport
wysig
wysig bron
Londen is die eerste stad wat reeds drie keer
Olimpiese Somerspele
aangebied het:
1908
1948
en
2012
. Daarbenewens het Londen ook twee keer as gasheer van
Statebondspele
opgetree: in 1911 (destyds Inter-Ryk Kampioenskappe genoem) en 1934.
In Londen vind sedert 1981 elke jaar die
Londen-maraton
plaas, volgens prysgelde, wentye en aantal deelnemers een van die belangrikste
maratons
ter wêreld.
The Boat Race
tussen die roerspanne van die
Universiteit van Oxford
en die
Universiteit van Cambridge
is een van die mees tradisionele wedstryde ter wêreld en word sedert 1856 op die Londense Teems aangebied.
Krieket
wysig
wysig bron
Binnekant van Twickenham, die wêreld se grootste rugbystadion
Lord's word
tuiste van krieket
genoem
41
Binnekant van Wembley, die VK se grootste stadion
Centre Court by Wimbledon. Die Wimbledon-kampioenskap is die oudste tennistoernooi in die wêreld
42
Londen beskik oor twee
krieketvelde
Lord’s
(tuisveld van Middlesex C.C.C.) en
The Oval
(tuisveld van Surrey C.C.C.). Albei stadions is in die 19de eeu opgerig. Lord’s het al vyf eindstryde van die
Krieketwêreldbekertoernooi
aangebied (in
1975
1979
1983
1999
en
2019
), meer as enige ander krieketveld.
43
Engeland
het hier op 14 Julie 2019 sy eerste
krieketwêreldbekertitel
ooit ingepalm, nadat hulle in 'n gelykop
Nieu-Seeland
volgens aantal grenshoue geklop het. Beide Lord’s en The Oval is tydens die
T20I-wêreldbeker 2009
gebruik. Daarbenewens het The Oval wedstryde tydens die
Kampioenetrofeë
in
2004
2013
en
2017
aangebied. Londen was ook een van die Engelse gasheerstede tydens die
vrouekrieketwêreldbekertoernooie
in
1973
1993
en
2017
, asook die
T20I-vrouewêreldbekertoernooie
in
2009
en
2026
Rugby
wysig
wysig bron
Van Londen se bekende
rugbyspanne
sluit in Harlequins en Saracens. Internasionale wedstryde word op
Twickenham
gespeel. Die eindstryd van die
Rugbywêreldbeker 2015
tussen die
All Blacks
van
Nieu-Seeland
en die
Wallabies
van
Australië
is hier op 31 Oktober beslis en deur die verdedigende kampioen Nieu-Seeland met 34–17 gewen. Ander wedstryde soos die bronseindstryd tussen die
Suid-Afrika
en
Argentinië
wat deur die
Springbokke
met 24–13 gewen is, is daarbenewens in die
Olimpiese Stadion
en die
Wembley-stadion
gehou. Twickenham word tydens die
Sesnasies-toernooi
as
Engeland
se tuisstadion gebruik. Londen was een van twee Engelse gasheerstede tydens die
Vrouerugbywêreldbeker 2010
en ook een van agt plekke tydens die
Vrouerugbywêreldbeker 2025
Sokker
wysig
wysig bron
Van die Engelse
Premier League
se suksesvolste
sokkerspanne
is in Londen gebaseer. Ses van die 20 spanne wat in die 2014–2015 seisoen in die Premier League gespeel het kom van Londen. Hierdie spanne is:
Arsenal
Chelsea
Tottenham Hotspur
West Ham
Queens Park Rangers
en Crystal Palace. Tweedeliga spanne Charlton Athletic en Fulham is ook van Londen afkomstig. Die bekendste sokkerstadion is
Wembley
, waar die eindstryd van die
FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966
tussen
Engeland
en
Wes-Duitsland
gespeel is wat deur die gasheer gewen is.
Tennis
wysig
wysig bron
Tussen einde Junie en die begin van Julie word vir twee weke die oudste belangrike en mees prestigeryke kampioenskap in
tennis
aangebied: Die
Wimbledon-kampioenskap
. Dit vorm saam met die
Australiese Ope
Franse Ope
en
VSA Ope
die vier "
Grand Slam
"-toernooie van elke jaar.
Susterstede
wysig
wysig bron
Greater London
wysig
wysig bron
Beijing
Volksrepubliek China
44
Berlyn
Duitsland
44
Bogotá
Colombia
44
Moskou
Rusland
44
New York
Verenigde State
44
Kuala Lumpur
Maleisië
44
Santiago de Chile
Chili
44
Shanghai
Volksrepubliek China
44
Teheran
Iran
44
Tokio
Japan
44
City of London
wysig
wysig bron
Algiers
Algerië
Hamburg
Duitsland
Moembaai
Indië
Verwysings
wysig
wysig bron
en
"London, United Kingdom Forecast
: Weather Underground (weather and elevation at Bloomsbury)"
. The Weather Underground, Inc
. Besoek op
22 Augustus
2014
en
"Population Growth in London, 1939–2015"
London Datastore
. Greater London Authority.
Geargiveer
vanaf die oorspronklike op 28 April 2020
. Besoek op
28 April
2020
de
www.zum.de: Klimadiagramm Kew bei London
de
Klaus Zehner en Gerald Wood (reds.):
Großbritannien. Geographien eines europäischen Nachbarn
. Heidelberg: Spektrum Akademischer Verlag 2010, bl. 77
en
Anthony David Mills (2001).
A Dictionary of London Place Names
. Oxford University Press. p.
139.
ISBN
978-0-19-280106-7
OCLC
45406491
en
Theodora Bynon (2016). "London's Name".
Transactions of the Philological Society
114
(3):
281–
97.
doi
10.1111/1467-968X.12064
ISSN
0079-1636
en
David Mills (2001).
A Dictionary of London Place Names
. Oxford University Press. p.
140.
ISBN
978-0-19-280106-7
OCLC
45406491
en
"Weerinligting vir Londen"
Wêreldmeteorologiese Organisasie
Geargiveer
vanaf die oorspronklike op 7 November 2017.
en
Tabel met weergemiddeldes
en
Rob Humphreys en Judith Bamber:
The Rough Guide to London
. London: Rough Guides 2003, bl. 54
en
Richard Coates:
A new explanation of the name of London
. In:
Transactions of the Philological Society
, jaargang 96, nommer 2, 1998, bl. 203–229
en
Dominic Perring:
Roman London
. Londen: Routledge 1991, bl. 1
en
City of London in samewerking met die Museum of London en die Worshipful Company of Firefighters:
The Great Fire of London
. Brosjure sonder jaargetal
de
Ingrid Nowel:
London. Biographie einer Weltstadt – Geschichte und Literatur, Architektur und Kunst
. Vierde uitgawe. Köln: DuMont Buchverlag 1990, bl. 24
en
www.bbc.co.uk: London's Burning: The Great Fire. Besoek op 26 Julie 2015
en
Lucy Inglis:
Georgian London
. London: Penguin Books 2014, bl. 6
en
Francis Sheppard:
London – A History
. Oxford: Oxford University Press 1998, bl. 207
en
"Table QS213EW 2011 Census: Country of birth (expanded), regions in England and Wales"
. Office for National Statistics. 26 Maart 2013.
Geargiveer
vanaf die oorspronklike op 23 Februarie 2016
. Besoek op
23 Februarie
2016
de
Rainer Eisenschmid:
London
. Ostfildern: Baedeker 2010, bl. 17
de
Peter Sahla:
London
. Ostfildern: DuMont 2011, bl. 8
en
Hello, world
. In:
The Economist
, 30 Junie 2012. Aanlyn beskikbaar:
economist.com
en
The Economist
, 30 Junie 2012
de
GTAI Germany Trade and Invest: Britische Baubranche blickt optimistisch in die Zukunft, 20 Augustus 2014
[dooie skakel]
en
www.gov.uk: Green Deal. Besoek op 25 Augustus 2014
en
Is this the top of the London housing market?
In:
The Telegraph
, 19 Augustus 2014. Besoek op 26 Augustus 2014
en
BBC Future, 3 April 2015: Can a city become too big? Besoek op 3 April 2015
en
BBC News, 7 Julie 2016: UK economy increasingly reliant on London tax, report finds. Besoek op 7 Julie 2016
en
The Guardian, 7 Julie: London pays almost a third of UK tax, report finds. Besoek op 7 Julie 2016
en
David Kynaston:
City of London. The History
. Londen: Chatto & Windus 2011. eBoek/Kindle-uitgawe, pos. 300
en
Zehner/Wood (2010), bl. 79
de
Die Welt, 9 Mei 2014: London sticht jede andere Stadt der Welt aus. Besoek op 9 Mei 2014
en
Tom Campbell:
Can post-Brexit London survive as Europe's cultural and financial capital?
In:
The Guardian
, 23 Januarie 2017. Besoek op 5 Februarie 2017
de
www.spiegel.de, 3 Julie 2016: Brexit-Folgen: Frontalangriff auf Londons Banken. Besoek op 5 Julie 2016
en
Campbell (2017)
en
Transport for London – London Underground
en
Transport for London (TfL): London buses. Besoek op 15 September 2014
en
www.tfl.gov.uk – Year of the Bus. Besoek op 26 Julie 2015
Geargiveer
10 September 2015 op
Wayback Machine
en
Not For Tourists Guide to London 2015
. 7de uitgawe. New York, NY: Skyhorse Publishing 2015, bl. 402
en
Michael Jackson:
London
. Londen: Mitchell Beazley 1988, bl. 24
en
The Guardian, 18 April 2018: London's skyline soars with record 510 tall buildings in pipeline. Besoek op 18 April 2018
en
"Lord's"
. ESPNcricinfo.
Geargiveer
vanaf die oorspronklike op 11 September 2010
. Besoek op
11 September
2010
en
cnn.com:
125 years of Wimbledon: From birth of lawn tennis to modern marvels
Geargiveer
18 Februarie 2020 op
Wayback Machine
, 22 Junie 2011, besoek op 5 September 2015.
en
"Lord's to host record 5th final in 2019 World Cup"
India TV
Geargiveer
vanaf die oorspronklike op 7 Julie 2019
. Besoek op
15 Julie
2019
10
en
"The Twin Cities of Oxford, Cambridge and London"
. Oxford Royale Academy
. Besoek op
16 Mei
2024
Eksterne skakels
wysig
wysig bron
Wikimedia Commons bevat media in verband met
Londen
Sien
Londen
in Wiktionary, die vrye woordeboek.
Algemeen
en
Amptelike webwerf
en
Londonist – Things to see and do in London
en
Toerisme-inligting oor
Londen
op
Wikivoyage
en
"London"
Encyclopædia Britannica
. Besoek op
16 Mei
2024
Geskiedenis van Londen
en
City of London – Explore Our History
Geargiveer
24 Februarie 2016 op
Wayback Machine
en
History of England – London History
Argitektuur
en
New London Architecture (NLA)
Media
en
youtube.com – Museum of London: history of the British capital
Fotogalerye
en
James Burns: London from the Rooftops 2014
en
Geographical.co.uk: London – the Unreal City: a striking new look at our capital
Russiese kultuur in Londen
en
20 Bedford Way – Russian Culture in London
Hoofstede
in
Europa
Hoofstede van
onafhanklike lande
Amsterdam
Andorra la Vella
Athene
Bakoe
Belgrado
Berlyn
Bern
Boedapest
Boekarest
Bratislava
Brussel
Chișinău
Dublin
Helsinki
Jerewan
Kijif
Kopenhagen
Lissabon
Ljubljana
Londen
Luxemburg
Madrid
Minsk
Monaco
Moskou
Nicosia
Oslo
Parys
Podgorica
Praag
Reykjavik
Riga
Rome
San Marino
Sarajevo
Skopje
Sofia
Stockholm
Tallinn
Tbilisi
Tirana
Vaduz
Valletta
Vatikaanstad
Vilnius
Warskou
Wene
Zagreb
Hoofstede van
omstrede gebiede
Donetsk
Lefkoşa
Loehansk
Pristina
Tiraspol
Hoofstede van
afhanklike gebiede
Douglas
Episkopi
Gibraltar
Longyearbyen
Mariehamn
Olonkinbyen
Ponta Delgada
Saint Helier
Saint Peter Port
Tórshavn
Hoofstede van
Afrika
Asië
Noord-Amerika
Oseanië
Suid-Amerika
Normdata
Internasionaal
VIAF
FAST
WorldCat
Nasionaal
Duitsland
Verenigde State
Frankryk
BnF-data
Japan
Australië
Tsjeggië
Spanje
Griekeland
Israel
Katalonië
Geografies
MusicBrainz-area
Kunstenaars
Victoria
Ander
IdRef
Geskiedkundige Woordeboek van Switserland
NARA
Ensiklopedie van Moderne Oekraïne
Ontsluit van "
Kategorieë
Hoofstede in Europa
Londen
Versteekte kategorie:
Voorbladartikels
Londen
Nuwe onderwerp