P.C. Schoonees - Wikipedia
Gaan na inhoud
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Dr. P.C. Schoonees
Gebore
Pieter Cornelis Schoonees
23 Desember
1891
Uniondale
Sterf
31 Oktober
1970
Strand, Wes-Kaap
Nasionaliteit
Suid-Afrika
Beroep
Leksikograaf
Eggenoot
Elizabeth Crawford
Dr.
P.C. Schoonees
(*
23 Desember
1891
Uniondale
- †
31 Oktober
1970
Strand
) (Oom Sarel) was 'n
Afrikaanse
skrywer en
leksikograaf
en 'n lid van die
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
Hy was ook die hoofredakteur van die
Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal
vanaf 1947. Hy het ook onder die skuilnaam "Jan Kloppers" geskryf.
Lewe en werk
wysig
wysig bron
Vroeë lewe en herkoms
wysig
wysig bron
Pieter Cornelis Schoonees is op 23 Desember 1891 in die Karoodorpie
Uniondale
in die
Langkloof
gebore.
Sy vader is ook P.C. Schoonees en sy moeder is Sophia Terburgh, wat beide in
Nederland
gebore is en daarvandaan na Suid-Afrika gekom het, sy vader as tienjarige seun uit
Amsterdam
Opleiding en begin van loopbaan
wysig
wysig bron
Die jong Schoonees ontvang sy skoolopleiding op sy geboortedorp en matrikuleer in
1908
aan die Uniondale Public School. Hy studeer vanaf
1909
tot
1910
aan die Victoria Kollege op
Stellenbosch
, waar hy in 1909 die intermediêre B.A. aflê. Hy kry hier klas by onder andere
W.J. Viljoen
en
D.F. Malherbe
en onder invloed van die Afrikaanse Taalvereniging ontwikkel hy hier ’n liefde vir Afrikaans.
Om gesondheidsredes moet hy in April 1910 noodgedwonge sy studies onderbreek en sy ideaal om predikant te word, laat vaar. In September
1911
begin hy onderwys gee aan die Seniorskool op
Utrecht
in
Natal
en vanaf Augustus
1915
tot die einde van
1916
gee hy in
Pietermaritzburg
onderwys aan die Harvardskool en vanaf
1917
tot
1919
aan die Pietermaritzburg Kollege.
In hierdie tyd skryf hy ’n groot aantal gedigte, wat hy aan
Jan F.E. Celliers
vir kommentaar stuur. Benewens geduldige kommentaar op die versies gee Celliers aan hom die goeie advies om hom eerder by prosa te bepaal en daardeur is sy letterkundige arbeidsveld ook vasgepen. Deur private studie behaal Schoonees in 1917 sy B.A.-graad aan die
Natalse Universiteitskollege
en in 1918 sy M.A.-graad, wat ook die eerste Meestersgraad in die
Kunste
is wat aan hierdie universiteit toegeken word. Na afloop van di
e Eerste Wêreldoorlog
gaan hy in 1919 met ’n Uniebeurs na Nederland en promoveer in
1922
onder leiding van professor J. Prinsen aan die Gemeentelike
Universiteit van Amsterdam
met ’n studie oor
Die prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging
, wat later gepubliseer en daarna telkens bygewerk word.
Bydrae tot die Afrikaanse letterkunde
wysig
wysig bron
Die Afrikaanse letterkundige kritiek was destyds nog in sy kinderskoene en vele kritici het elke boek wat in Afrikaans geskryf is aanbeveel om so die taal en erkenning van die taal te bevoordeel. Schoonees se standpunt was dat letterkunde van blywende waarde nie so gebou kan word nie en hy beoordeel werke suiwer volgens letterkundige meriete. Op genadelose wyse lê hy dus die swakhede van eietydse en selfs gevierde skrywers bloot in sy toepassing van internasionaal aanvaarde norme by die beoordeling van die letterkunde. Hierdie botsende standpunte sorg vir groot polemiek wat gepaardgaan met die publikasie van sy proefskrif. Reeds voor publikasie van die proefskrif is hy in
Die
Huisgenoot
in ’n woordewisseling met
C.J. Langenhoven
betrokke oor laasgenoemde se mening dat alle skrywers hulle arbeid aan didaktiese leesstof moet wy om sodoende die sukkelaars onder ons aan te help. Na publikasie van die proefskrif kry Langenhoven nog ’n lat om Schoonees by te kom en verkwalik hy hom oor die negatiewe oordeel wat hy oor die werk van
G.R. von Wielligh
uitspreek en dit terwyl Von Wielligh feitlik blind is.
Die aanvanklike polemiek oor die proefskrif duur meer as ’n jaar voort en verskeie skrywers en literatore neem daaraan deel.
Professor J. Kamp skryf ’n studie oor die proefskrif in
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
1923/24 en loof Schoonees vir die kritiese regstelling wat hy teweegbring, maar F.E.J. Malherbe spreek behalwe vir waardering vir Schoonees se regstellende kommentaar oor taalgebruik sterk kritiek uit teen die proefskrif. Skrywers wie se werk deurloop reageer ook. G.R. von Wielligh maak beswaar teen die wyse waarop sy werk bespotlik gemaak word (
Die Huisgenoot
Januarie
1923
) en
J.H. Malan
doen ’n persoonlike aanval op Schoonees (
Die Huisgenoot
Maart 1923). Hierdie polemiek vlam selfs daarna periodiek weer op, onder andere in
1928
tussen Schoonees en F.E.J. Malherbe, nadat laasgenoemde die tweede uitgawe van Schoonees se werk resenseer en aanvoer dat hy die een was wat Schoonees tot meer besadigde oordele gebring het. Die dokumente en geskrifte rondom hierdie polemiek word volledig gedokumenteer in P.J. Nienaber se
Rapier en knuppel
, waarin belangrike polemieke uit die
Afrikaanse
letterkundige belewenis gebundel is.
Werk as akademikus
wysig
wysig bron
Vanaf Januarie tot Junie 1923 is Schoonees waarnemende professor aan die
Universiteit van die Witwatersrand
en direk daarna tot 1925 is hy lektor aan die Opleidingskollege in Pietermaritzburg. Terselfdertyd is hy assistent aan die Natalse Universiteitskollege vir die Meestersgraadstudente van professor
G. Besselaar
. Saam met
M.S.B. Kritzinger
, H.A. Steyn en U.J. Cronjé gee hy in
1926
die
Groot Woordeboek
van die Afrikaanse taal uit, wat baanbrekerswerk op hierdie gebied is. Hierdie woordeboek word daarna telkens bygewerk en beleef vele herdrukke.
Betrokkenheid by Afrikaanse kultuurlewe
wysig
wysig bron
Hy word vanaf 1926 tot
1946
skoolhoof aan die Hoërskool
Vryheid
. In Natal speel hy ’n belangrike rol in die Afrikaanse kultuurlewe en is onder andere voorsitter van die Natalse Saamwerk-Unie en redakteur van hulle mondstuk
Die Saamwerk
, stigter van die Afrikanerkring van Vryheid en voorsitter van die Natalse Kultuurvereniging.
By die skool is
D.J. Opperman
een van sy leerlinge en hy stel sy private biblioteek vir hom oop vir verdere studie. Vanaf
1947
word hy aangestel as hoofredakteur van die
Woordeboek van die Afrikaanse Taal
op Stellenbosch, ’n posisie wat hy tot met sy aftrede op
30 Junie
1962
beklee. In hierdie tyd word vier volumes van die woordeboek gepubliseer wat die letters A tot I dek.
Hy beklee verskeie belangrike posisies en is so lid van die Raad van die
Universiteit van Suid-Afrika
vanaf
1930
; lid van die Raad van die Natalse Universiteitskollege vanaf 1926 en ook lid van die
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
, waar hy dikwels optree as beoordelaar vir die
Hertzogprys
en op die Akademieraad dien.
Tussen 1923 en 1946 dien hy op die hoofbestuur van die Natalse Saamwerk-Unie en vir vyf jaar is hy voorsitter van hierdie liggaam. Vanaf 1931 tot 1946 is hy voorsitter van die Afrikanerkring op
Vryheid
in Natal en hy is lid van die
Sentrale Volksmonumentekomitee
en die
Jan van Riebeeck
-Feeskomitee.
Op
Vryheid
dien hy op die bestuur van de Carnegiebiblioteek, die Nieuwe Republiekmuseum en die Kindersorg. Hy is ook lid van die
Maatschappij der Nederlandse Letterkunde
. Wanneer die Afrikaanse Skrywerskring in
1949
besluit om sy werksaamhede buite
Johannesburg
te ontplooi, is hy een van die eerste lede van die kring op Stellenbosch en vanaf
1950
voorsitter van hierdie organisasie se werkgemeenskap, waarna hy ook op die hoofbestuur dien.
Persoonlike lewe
wysig
wysig bron
Hy is getroud met Elizabeth Catherine (Ethie) Crawford (1890–1979)
en uit die huwelik word twee dogters en ’n seun gebore. Na sy aftrede gaan bly hulle in die
Strand
. Vanaf 1923 dien hy gereeld op kerkrade en is diaken of ouderling in vier verskillende gemeentes. Hy is op Saterdag 31 Oktober 1970 op die
Strand
aan longkanker oorlede.
Skryfwerk
wysig
wysig bron
Woordeboeke
wysig
wysig bron
Sy publikasies dek verskeie gebiede. As woordeboekmaker is hy saam met
M.S.B. Kritzinger
, H.A. Steyn en U.J. Cronjé in 1926 verantwoordelik vir die eerste omvattende Afrikaans-Engels, Engels-Afrikaans Woordeboek (
Groot Woordeboek
) en later sit hy as hoof van die
Woordeboek van die Afrikaanse Taal
sy werk in hierdie rigting voort.
Hy is ook hoofredakteur van die
Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal
wat as die
H.A.T.
algemene bekendheid verwerf, en as standaardwerk in sy veld telkemale herdruk word.
Na aftrede voltooi hy ook die
Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal
en die kleiner
Skoolwoordeboek van die Afrikaanse taal
Rondom die Woordeboek
is ’n bundel met artikels oor die wese van ’n woordeboek en die reusagtige taak van diegene wat ’n woordeboek saamstel.
Skryfwerk as letterkundige kritikus
wysig
wysig bron
As letterkundige kritikus word hy gereken as een van die skerpste ontleders van prosa van sy tyd en sy monumentale werk,
Die prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging
, word telkens verwerk en uitgebrei en is die toonaangewende werk van sy aard in die tyd tot
1940
. Hy is een van die eerste Afrikaanse kritici wat genadeloos onder die prosawerke van sy tyd inklim om slegs met die hoogste letterkundige standaarde as maatstaf te beoordeel, ’n benadering wat nagevolg word deur ander literatore soos
Gerrit Dekker
en spoedig lei tot die verhoging in gehalte van die prosa.
Tien jaar prosa
behandel die prosa in die tien jaar na 1940, maar hierin streef hy nie na volledigheid nie. Saam met J.R.L. van Bruggen skryf hy
Inleiding tot die studie van die letterkunde
, waarin studente begelei word in die literêre teorie. Saam met die taalkundige J.J. le Roux is hy ook verantwoordelik vir
Die nuwe taal- en stylgids
, waarin studente touwys gemaak word in die korrekte gebruik van die taal.
Fiksie
wysig
wysig bron
Fiksie vir volwassenes
wysig
wysig bron
Sy vernaamste kreatiewe skryfwerk is die novelle
Jannie
(aanvanklik gepubliseer onder die skuilnaam Oom Sarel), wat in groot mate ’n gefiksionaliseerde weergawe van sy jeugervarings is en die sielkundige ontwikkeling van ’n jong seun skets.
Jannie word groot in ’n klein dorpie in die moeilike jare na afloop van die
Anglo-Boereoorlog
. Sy verhouding met sy ouers en susters word geskets en in sy matriekjaar raak hy verlief op Sannie, maar hierdie kalwerliefde wat “vir ewig” sou duur, kwyn wanneer hy na Stellenbosch se universiteit gaan. Hy gaan gee onderwys op Smithville in Natal, waar hy verlief raak op Beryl, ’n Engelse meisie. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog kom daar egter verwydering, omdat die ontwakende nasionale bewussyn van die Karooseun in botsing kom met Beryl se lojaliteit aan die Britse tradisie. Hierdie krisis laat Jannie diep nadink oor die beginsels van die lewe, wat sy lewensbeskouing rig. Hierdie werk word eervol vermeld tydens die toekenning van die
Hertzogprys
in 1926.
Die roman
Groenfontein se mense
, onder die skuilnaam Jan Kloppers,
steun grootliks op die skrywer se tyd as onderwyser op Vryheid. Die hoofkarakter is ’n idealistiese hoofonderwyser op ’n Natalse dorpie wat te doen kry met allerhande probleme in sy moeilike taak. Die verhaal word verder ingekleur deur verskeie didaktiese anekdotes.
Kleingoed
bevat opstelle oor kultuursake en algemene onderwerpe, asook kritiese beskouings oor
Martjie
Reg bo Reg
’n Esau
en
Die Heks
Essays en sketse oor verskeie didaktiese onderwerpe oor opvoeding, letterkunde en ander sake waarmee hy hom besig hou, is vervat in die didaktiese bundels
Dink vir jouself
en
Verskeidenhede
’n Keur uit hierdie drie bundels word deur
D.J. Opperman
versorg en uitgegee as
Die tweede verdieping
, vergesel van ’n waarderende inleiding deur Opperman.
Die titel verantwoord Opperman deur daarop te wys dat Schoonees gewillig was om op die “eerste verdieping” te dien (vergaderings, komitees en redaksionele werk) maar hierdie diens was ter wille van die “tweede verdieping”, waar hy gepleit het vir die suiwering en veredeling van die taalstryd. Die beste van die stukke in hierdie bundel het die toets van die tyd deurstaan en bevat prikkelende gedagtes oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe, waaronder die kanseltaal, die
Bybel
as letterkundige werk en ook eie ervarings en indrukke. Sy sin vir humor blyk duidelik uit sy feitlik onbekende publikasie
Vinnige flitse
. Aan die begin van sy loopbaan skryf hy verskeie gedigte, waarvan enkeles in
Die Brandwag
en
De Goede Hoop
gepubliseer word.
Fiksie vir kinders
wysig
wysig bron
Vir kinders werk hy mee aan die
Fontein
-reeks boekies vir leesgebruik op skole, wat titels soos
Rontom en sy maats
Skool toe
Rontom op reis
Hier’s ons weer
Die baasverteller
Droomwêreld
Drie wense
Die gelukskind
en
Die towerfluit
insluit.
Vertaler
wysig
wysig bron
As vertaler is hy verantwoordelik vir die Afrikaanse vertaling van talle van
D’Arbez
se werke (insluitende
Mooi Annie
Die familie van die sieketrooster
en
Swart en wit
) en die Middeleeuse
Beatrys
en
Siegfried
, ’n verhaal uit die bekende
Nibelungenlied
).
Vir die Nederlandse kinderboeke
Erik, of het klein insectenboek
van G.J.A. Bomans en
De scheepsjongens van Bontekoe
van Johan Fabricius, skryf hy verklarende aantekeninge in Afrikaans en hy vertaal
Eiko van Reigerhof
van Johan Fabricius.
Samesteller
wysig
wysig bron
As samesteller is hy onder andere verantwoordelik vir versamelbundels soos
Afrikaanse prosabundel
Uit de Nederlandse verhaalkunst
en
Bloemlesing uit die gedigte van P.A. de Génestet
Saam met sy broer, Lucas Anthonie Schoonees, verwerk en verkort hy A.J. Jacobs se boek
Reisavonture onder die Boere in Argentinië
, wat oorspronklik onder die skuilnaam Dominé as
Reisavonture op land en see
verskyn het.
Hy lewer ook bydraes tot boeke soos
Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner
en
Gedenkboek C.M. van den Heever
Eerbewyse
wysig
wysig bron
In 1962 ken die
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
’n Erepenning vir Afrikaanse Taal en Letterkunde aan hom toe en in
1964
ken die
Universiteit van Natal
’n eredoktorsgraad in die lettere (D.Litt. Hons.-graad) aan hom toe. Die hoofbestuur van die Afrikaanse Skrywerskring onthul op
10 Desember
1984
’n koperplaat op sy graf.
10
Publikasies
wysig
wysig bron
Werke uit sy pen sluit in:
11
12
Jaar
Publikasies
1922
Die Prosa van die tweede Afrikaanse beweging, 1922/1927/1939
1925
Inleiding tot die studie van letterkunde
(saam met J.R.L. van Bruggen)
1926
Jannie
, Nasionale Boekhandel, 1926/1959/1961/1967 (onder die naam Oom Sarel)
1929
Kleingoed
1940
Dink vir jouself
1943
Die nuwe taal- en stylgids
(saam met J.J. le Roux)
1948
Verskeidenhede
1950
Tien jaar prosa
1953
Groenfontein se mense
(onder die naam Jan Kloppers)
1958
Rondom die Woordeboek
, Nasionale Boekhandel, 1958/1971
1962
Die Tweede Verdieping
, Nasionale Boekhandel, 1959/1962
Vertalings
1925
Mooi Annie of Die Skipbreukelinge
– D'Arbez
1928
Swart en wit: 'n Verhaal uit die Vrystaatse Basoeto-Oorlog
– D’Arbez
1929
Die familie van die
sieketrooster
/ Die Franse vlugtelinge
– D’Arbez
1930
Skipbreukelinge
– D’Arbez
1932
Die stryd om reg
– D’Arbez
1934
Reisavonture onder die Boere in Argentinië
– Dominé
1939
Beatrijs
1942
Siegfried: ’n Verhaal uit die Nibelungenlied
1948
Eiko van Reigerhof
– Johan Fabricius
Samesteller
1922
Afrikaanse Prosabundel
, 1922/1973
1926
Groot Woordeboek,
JL VAN SCHAIK,
M.S.B. Kritzinger
, H.A. Steyn, P.C. Schoonees en U.J. Cronjé, (met M.S.B. Kritzinger, H.A. Steyn en U.J. Cronjé)
Juta se Afrikaanse leesboeke
(met J.J. Jordaan en C. Louis Leipoldt)
1934
Bloemlesing uit die gedigte van P.A. de Génestet
1944
Nederlandse verhalen
1947
Die Afrikaanse woordeboek
1954
Uit de Nederlandse Verhaalkunst: Bloemlesing met aantekeninge en vrae
1955
Juta se Fontein-reeks
(met J. Heyl, Nico Uys, e.a.)
1965
Handwoordeboek van die Afrikaanse taal
(saam met C.J. Swanepoel, S.J. du Toit en C.M. Booysen)
1970
Skoolwoordeboek van die Afrikaanse taal
(met C.J. Swanepoel)
Publikasies (2)
wysig
wysig bron
Afrikaanse Prosabundel, 1922/1973
Rondom die Woordeboek, Nasionale Boekhandel, 1958/1971
Woordeboek van die Afrikaanse, staatsdrukker, 1961
Groot Woordeboek, JL VAN SCHAIK,
M.S.B. Kritzinger
, H.A. Steyn, P.C. Schoonees en U.J. Cronjé, 1965
Jannie, Nasionale Boekhandel, 1926/1959/1961/1967
Kleingoed, 1929
Die Tweede Verdieping, Nasionale Boekhandel, 1959/1962
Mooi Annie of Die Skipbreukelinge – D'Arbez (vert. Schoonees), 1956
Swart en wit: 'n Verhaal uit die Vrystaatse Basoeto-Oorlog – Van Oordt ("D'Arbez") (verwerking), 1939
Die familie van die sieketrooster / Die Franse vlugtelinge – D'Arbez (verwerking), 1931
Die Prosa van die tweede Afrikaanse beweging, 1922/1927/1939
Bronnelys
wysig
wysig bron
Boeke
wysig
wysig bron
Antonissen, Rob.
Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede.
Nasou Beperk Derde hersiene uitgawe Tweede druk 1964
Dekker, G.
Afrikaanse Literatuurgeskiedenis.
Nasou Beperk Kaapstad Elfde druk 1970
Grové, A.P.
Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans.
Nasou Beperk Vyfde uitgawe Eerste druk 1988
Kannemeyer, J.C.
Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1.
Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1984
Kannemeyer, J.C.
Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2
. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983
Kannemeyer, J.C.
Die Afrikaanse literatuur 1652–2004.
Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
Nienaber, P.J.
Die Hertzogprys Vyftig Jaar
. Nasionale Boekhandel Kaapstad Eerste uitgawe 1965
Nienaber, P.J.
Hier is ons skrywers!
Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Eerste uitgawe 1949
Nienaber, P.J.; Senekal, J.H en Bothma, T.C.
Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde.
Afrikaanse Pers-Boekhandel Tweede hersiene uitgawe 1963
Nienaber, P.J. et al.
Perspektief en Profiel.
Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe 1969
Schoonees, P.C.
Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging.
J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch- Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co, Kaapstad 1939 (derde druk)
Schoonees, P.C.
Die tweede verdieping.
Nasionale Boekhandel Beperk Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg 1962
Schoonees, P.C.
Verskeidenhede.
Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg 1948
Van Coller, H.P. (red.)
Perspektief en Profiel Deel I
. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
Tydskrifte en koerante
wysig
wysig bron
Kombuis, Koos.
Terug na die kombuis: Herinneringe aan my oupa
. Insig, Desember 2001
Snijman, F.J.
Pieter Cornelis Schoonees
. Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1970–1971. E.J. Brill, Leiden 1972
Verslaggewer.
Schoonees het selde gerus.
Die Transvaler, 2 November 197
Verwysings
wysig
wysig bron
Wallis, F. (2000). Nuusdagboek: feite en fratse oor 1000 jaar, Kaapstad: Human & Rousseau
Profiel op dbnl.org
, besoek op 23 Desember 2014
Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
(NALN) Bloemfontein.
Schoonees, dr. Pieter Cornelis – Biografie.
Nienaber, P.J. (red.)
Rapier en Knuppel.
Nasionale Boekhandel Kaapstad 1965 bl. 34-35
Nienaber, P.J. (red.)
Rapier en Knuppel.
Nasionale Boekhandel Kaapstad 1965 bl. 53-121
Eggsa:
Anoniem.
Dr. Schoonees is oorlede.
Volksblad, 2 November 1970
Esaach:
Schutte, R. Kriterium, Oktober 1963
Anoniem.
Gedenkplaat onthul: Dr. P.C. Schoonees 23 Desember 1891 – 31 Oktober 1970.
Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 23 no. 2, Mei 1985
Worldcat:
Digitale bibliotheek voor Nederlandse Letteren:
Eksterne skakels
wysig
wysig bron
Lees 'Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging' deur P. C. Schoonees
Normdata
Internasionaal
ISNI
VIAF
WorldCat
Nasionaal
Duitsland
Verenigde State
Frankryk
BnF-data
Australië
Nederland
Israel
Mense
Netherlands
Trove
Ander
IdRef
Ontsluit van "
Kategorieë
Afrikaanse skrywers
Geboortes in 1891
Sterftes in 1970
Leksikografie
Versteekte kategorie:
Artikels met hCards
P.C. Schoonees
Nuwe onderwerp
US