
’n Skrikkeljaar is ’n kalenderjaar wat ’n bykomende dag bevat. Die 366ste dag word bygevoeg om die kalenderjaar met die sterrekundige of seisoenale jaar te sinchroniseer.[1] Seisoen- en sterrekundige gebeure geskied nie elke volle aantal dae nie, met die gevolg dat gebeure in 'n kalender met dieselfde aantal dae vir elke jaar geleidelik sal verskuif. Deur 'n bykomende dag by te voeg kan die verskuiwing reggestel word.
’n Sterrekundige jaar duur effens minder as 3651⁄4 dae. Die historiese Juliaanse kalender het drie gewone jare van 365 dae, gevolg deur ’n skrikkeljaar van 366 dae, deur Februarie tot 29 dae te verleng. Die Gregoriaanse kalender, die wêreld se mees gebruikte burgerlike kalender, maak ’n verdere aanpassing vir die klein fout in die Juliaanse algoritme; dié ekstra skrikkeldag kom voor in elke jaar wat ’n veelvoud van vier is, buiten jare wat eweredig deur 100 deelbaar is maar nie deur 400 nie. Dus is 1600, 2000 en 2400 skrikkeljare, maar nie 1700, 1800, 1900, 2100, 2200 en 2300 nie.
In die Hebreeuse maansonkalender word Adar Alef, ’n 13de maanmaand, sewe keer elke 19 jare by die 12 maanmaande in sy gewone jare gevoeg om te verhoed dat die kalenderjaar deur die seisoene dryf. In die Hidjri-sonkalender (van Iran en Afganistan) en die Bahá'í-kalender word ’n skrikkeldag bygevoeg wanneer nodig om te verseker dat die volgende jaar op die Maart-ewening begin.
Die lengte van ’n dag word ook soms reggestel deur ’n skrikkelsekonde in Gekoördineerde Universele Tyd (UTC) in te voeg weens variasies in die Aarde se rotasieperiode. Anders as skrikkeldae, word skrikkelsekondes nie volgens ’n gereelde skedule ingevoer nie, aangesien variasies in die lengte van die dag nie heeltemal voorspelbaar is nie.
Op 1 Januarie 45 v.C. het Julius Caesar die historiese Romeinse kalender per edik hervorm om dit ’n konsekwente sonkalender te maak (eerder as een wat nie 'n streng maan- of sonkalender was nie). So het hy die behoefte aan gereelde bygevoegde maande uitgeskakel. Sy reël vir skrikkeljare was eenvoudig: Voeg elke vier jaar ’n skrikkeldag by. Hierdie algoritme is naby aan die werklikheid: ’n Juliaanse jaar duur 365,25 dae; ’n gemiddelde tropiese jaar is ongeveer 365,2422 dae, ’n verskil van 111⁄4 minute.[2] Gevolglik dryf selfs die Juliaanse kalender met sowat drie dae elke 400 jare weg van die “ware” tyd. Die kalender is ongeveer 1 600 jaar lank onveranderd gebruik totdat die Katolieke Kerk bekommerd geraak het oor die toenemende verskil tussen die Maart-ewening en 21 Maart, soos hier onder by Gregoriaanse kalender verduidelik word.
Voor Caesar se skepping van wat die Juliaanse kalender sou word, was Februarie reeds die kortste maand van die jaar vir die Romeine. In die Romeinse kalender (ná die hervorming wat Januarie en Februarie bygevoeg het) het alle maande behalwe Februarie ’n onewe aantal dae gehad: 29 of 31. Dit was weens ’n Romeinse bygeloof dat ewe getalle ongeluk bring.[3] Toe Caesar die kalender verander om die sonjaar nouer te volg, het hy alle maande 30 of 31 dae gemaak en Februarie onveranderd gelaat, behalwe in skrikkeljare.
In die Gregoriaanse kalender, die standaardkalender in die grootste deel van die wêreld,[4] is byna elke vierde jaar ’n skrikkeljaar. In elke skrikkeljaar het die maand Februarie 29 dae in plaas van 28. Deur elke vier jaar een ekstra dag by die kalender te voeg, word vergoed vir die feit dat ’n tydperk van 365 dae byna ses uur korter as ’n tropiese jaar is.[5] Dié regstelling is egter oormatig, en die Gregoriaanse hervorming het die Juliaanse kalender se skrikkeljaarskema soos volg aangepas:
Elke jaar wat presies deur vier deelbaar is, is ’n skrikkeljaar, behalwe jare wat presies deur 100 deelbaar is; hierdie eeujare is egter skrikkeljare as hulle presies deur 400 deelbaar is. Die jare 1900, 2100 en 2200 is byvoorbeeld nie skrikkeljare nie, maar die jare 1600, 2000 en 2400 is wel.[6]
Waar die Juliaanse kalenderjaar die Aarde se tropiese jaar verkeerdelik as 365,25 dae bereken, volg die Gregoriaanse kalender 'n kalenderjaar van 365,2425 dae. Oor ’n tydperk van vier eeue beloop die opgehoopte fout van die byvoeging van ’n skrikkeldag in elke vierde jaar ongeveer drie ekstra dae. Die Gregoriaanse kalender laat daarom drie skrikkeldae elke 400 jaar weg, wat die lengte van sy skrikkelsiklus is. Dit word gedoen deur 29 Februarie in die drie eeujare wat veelvoude van 100, maar nie van 400 is nie, weg te laat.[7]
Volgens dié reël is ’n volledige skrikkelsiklus 400 jaar lank, wat altesaam 146 097 dae is, en die gemiddelde aantal dae per jaar is 365 + 1⁄4 − 1⁄100 + 1⁄400 = 365 + 97⁄400 = 365,2425.[9]
Die Gregoriaanse kalender is ontwerp om die Maart-ewening op of naby 21 Maart te hou, sodat die datum van Paasfees (gevier op die Sondag ná die kerklike volmaan wat op of ná 21 Maart val) naby die Maart-ewening bly.[10]
Mense wat op 29 Februarie gebore is, vier in baie dele van die wêreld (soos in Brittanje, Taiwan en Hongkong) hulle verjaardae op 1 Maart. Ander vier dit op 28 Februarie. Vir regsdoeleindes hang dit van 'n land se wette af.
- ↑ Meeus, Jean (1998), Astronomical Algorithms, Willmann-Bell, p. 62
- ↑ Astronomical almanac online glossary, US Naval Observatory, 2023, https://aa.usno.navy.mil/faq/asa_glossary#year, besoek op 15 August 2024
- ↑ Hogeback, Jonathon, Why Are There Only 28 Days in February?, https://www.britannica.com/story/why-are-there-only-28-days-in-february, besoek op 31 May 2023
- ↑ Dershowitz, Nachum; Reingold, Edward M. (2008), Calendrical calculations (3rd ed.), Cambridge: Cambridge University Press, p. 45, ISBN 978-0-521-88540-9, OCLC 144768713
- ↑ Lerner, Ed. K. Lee; Lerner, Brenda W. (2004), Calendar, Detroit, MI: Gale
- ↑ Introduction to Calendars Geargiveer 13 Junie 2019 op Wayback Machine. (10 August 2017). United States Naval Observatory.
- ↑ United States Naval Observatory (14 June 2011), Leap Years, archived from the original on 15 Oktober 2007, https://web.archive.org/web/20071015174504/http://aa.usno.navy.mil/faq/docs/leap_years.php, besoek op 9 April 2014
- ↑ Richards, E. G. (2013), "Calendars", in Urban, S. E.; Seidelmann, P. K., Explanatory Supplement to the Astronomical Almanac (3de ed.), Mill Valley, California: University Science Books, p. 598, ISBN 9781891389856
- ↑ Richards, E. G. (1998), Mapping time: The Calendar and its History, Oxford University Press, pp. 250–1, ISBN 0-19-286205-7