'n Sweedse helm uit die Vendeltydperk (550–800 n.C.)

Nog sowat 14 000 jaar gelede was Swede as gevolg van 'n koue periode en vergletsering volledig met ys bedek en eers nadat die yslaag geleidelik begin afsmelt het, het die eerste mense hulle in die gebied begin vestig. Die oudste menslike nedersetting wat in Suid-Swede opgegrawe is, het sowat 12 000 jaar gelede ontstaan.

Die stamme wat die land in die tydperk tussen 8 000 en 6 000 v.C. bewoon het, was jagters en vissers wat eenvoudige steengereedskap vervaardig het. Gedurende die Steentydperk het hierdie gereedskap steeds meer gesofistikeerd geword en 'n groter aantal nedersettings en begraafplase wat bewaar gebly het, getuig van die kulturele vooruitgang in hierdie periode.

Die Bronstydperk het in Skandinawië omstreeks 1 800 v.C. begin en tot sowat 500 v.C. geduur. Alhoewel steengereedskap nog steeds in gebruik was, is nou 'n groter aantal wapens en kulturele voorwerpe uit brons vervaardig. Argeologiese vondste uit grafte dui op 'n hoogs ontwikkelde beskawing in die gebied van die huidige Denemarke en Swede.

Vanaf 500 v.C. is brons geleidelik deur yster vervang. Die bevolking van Swede het in die Vroeë Ystertydperk (500 v.C. tot 400 n.C.), gedurende die Volksverhuising (400 tot 550) en in die daaropvolgende Vendeltydperk (wat na die indrukwekkende vondste in die bootgrafte van Vendel in Uppland vernoem is, 550 tot 800) hul nomadiese leefwyse vir 'n gevestigde lewe as plaasboere versaak en akkerbou het tot die basis van die plaaslike ekonomie en samelewing ontwikkel.

Gedurende die Wiking-tydperk tussen omtrent 800 en 1050 het Swede begin om sy invloedsfeer en handelsbetrekkinge veral in Oos-Europa uit te brei. Sweedse Wikings het tydens hulle rooftogte en handelsekspedisies langs die kuslyn van die Oossee en die riviere in die ooste tot by die Russiese binneland geseil om hier handelsposte en kortstondige ryke te stig en verder suidwaarts na die Swart en Kaspiese See waar hulle handelsbande met die Bisantyne en die Arabiere gevestig het.

Gerekonstrueerde Wiking-huise in Birka. Birka, wat in 790 op die eiland Björkö in die Mälarmeer gestig is, was die eerste stad in Swede. Die Frankiese monnik Ansgar het hier in 830 sy Christelike sendingwerk begin

Met hul uitgebreide handelsnetwerk het die Wikings Joodse en Friese handelaars verdring wat nog in die 8ste en 9de eeu die handel in die Mediterreense wêreld, die Oosterse gebiede en die weste en noorde van Europa oorheers het. Handelsgoedere is op see en binnelandse waterweë soos riviere vervoer. Danksy die oorheersing van die Russiese handelsroetes tussen die Dnjepr-rivier en die Bisantynse Ryk en tussen die Wolga en die Arabiese wêreld het Swede met nedersettings soos Birka tot 'n sentrum van die wêreldhandel ontwikkel wat eers omtrent 900 deur die seehawe Haithabu (tans Hedeby in die huidige Duitse deelstaat Sleeswyk-Holstein) vervang is.

Die handel met Arabië het dié met die Bisantynse Grieke nog oortref en net op die Sweedse eiland Gotland is tydens argeologiese opgrawings meer as 40 000 silwermunte opgegrawe.[9] Die Wikings het veral pelse en slawe uit die Finse, Slawiese en Baltiese gebiede en juweliersware uit edelmetale na die Oosterse gebiede uitgevoer. Eers omstreeks 1050, toe die silwermyne in die Oostelike Kalifaat uitgeput was en deur die mynboubedrywighede in die Duitse Harz-bergreeks vervang is, het die Wiking-handel tot stilstand gekom. Die handel in die Oosseegebied is vervolgens deur Slawiese stamme oorheers.

Die kerstening van Swede het met die aankoms van die Frankiese monnik en latere aartsbiskop van Bremen en Hamburg, Sint Ansgar, in die 9de eeu 'n aanvang geneem, maar die inheemse bevolking het sy Nordies-Germaanse godsdiens eers in die loop van die 11de eeu ten gunste van die Christendom begin versaak en nog in die 12de eeu was daar heidense gemeenskappe in die land.

Olof Skötkonung uit die Uppsala-dinastie (omtrent 995–1022) was die eerste Sweedse koning wat in 1008 die Christelike doop ontvang het. Ná die dood van sy seuns is die Uppsalas opgevolg deur die Stenkils. Hul regeringsperiode is oorskadu deur die voortdurende magstryd tussen die Christelike Gaute van Götaland en die heidense Svear van Uppland. Die stryd is in 1125 met die uitsterwing van die Stenkils-dinastie besleg.

In 1164 is die eerste Sweedse aartsbiskop benoem. As gevolg van die Sweedse magsuitbreiding in oostelike rigting is Finland ná 'n reeks veldtogte in die 12de en 13de eeu by die Sweedse Ryk ingelyf.

Swede in die jaar 1280

Die verskillende Sweedse geweste was oorspronklik in politieke opsig onafhanklik, maar omstreeks 1000 is hierdie gebiede in 'n enkele koninkryk verenig wat sy sentra in Väster- en Östergötland en Uppland gehad het. Die geweste het nogtans tot teen die middel van die 13de eeu as administratiewe eenhede met hul eie thing ('n tradisionele Germaanse volks- en regsvergadering), regstelsel en wette voortbestaan.

Swede het daarna tot 'n meer sentralistiese monargie ontwikkel waarin die Sweedse koning sy oorheersende invloed deur die oprigting van koninklike kastele en die daarstelling van 'n provinsiale administrasie laat geld het. Die wette en verordenings, wat deur die koning afgekondig is, was voortaan in die hele koninkryk geldig.

Met Sverker die Ouere (1130–1156) het 'n lid van die Sverker-dinastie Sweedse koning geword wat die kerstening van die land onder meer met behulp van die Sistersiënse-orde wou bevorder. Sy seun Sverker die Jongere is deur die Upsvear (die bewoners van Uppland en Västmanland) afgeset wat in 1250 Knut Knutsson tot koning uitgeroep het.

In dieselfde jaar het Birger Jarl, 'n lid van die Folkunger-dinastie, die mag in die land oorgeneem. Sy heerskappy was deur vriendskaplike bande met Noorweë en Denemarke, die inlywing van Suid-Finland by die Sweedse Ryk, die afkondiging van talle nuwe rykswette, die toekenning van handelsvoorregte aan die Duitse Hanseverbond en die stigting van 'n aantal stede gekenmerk.

Die Statuut van Alsnö, wat in 1280 deur koning Magnus Ladulås (1275–1290) ingestel is, het alle militêre ruiters belastingvry gestel en sodoende die ontstaan van 'n wêreldlike adelsklas en die herstrukturering van die staat volgens feodale beginsels bevorder. Die koning het verteenwoordigers van adel en klerus, wat in 'n adviserende raad gedien het, by belangrike besluite betrokke. Tydens die heerskappy van koning Magnus Eriksson (1319–1364) is alle gewestelike wette in 1350 deur 'n nasionale wet vervang.

Die hoofartikel vir hierdie afdeling is:

Hanse

.

Die 14de eeu was 'n periode van uitgebreide handelsbetrekkinge met die stede van die Duitse Hanseverbond onder leiding van Lübeck, 'n belangrike hawestad aan die Oossee. Die Hanse het die handel in Swede in die volgende twee eeue tot in die middel van die 16de eeu oorheers; Duitse ambagte en administratiewe stelsels het die stigting van nuwe Sweedse stede bevorder en 'n groot aantal Duitse koopmans en ambagsmanne het hulle in die land gevestig.

Die landbou was steeds die ekonomiese basis van Swede, maar is danksy die invoering van nuwe landboumetodes, waaronder die drieslagstelsel en nuwe gereedskappe, gemoderniseer. Pesepidemies, wat Swede vanaf 1350 geraak het, het egter tot 'n ekonomiese agteruitgang gelei wat deur groot bevolkingsverliese en 'n ontvolkte platteland gekenmerk was. Die ekonomie het eers met die ontwikkeling van 'n ysterbedryf in Sentraal-Swede in die tweede helfte van die 15de eeu herstel.

Die hoofartikel vir hierdie afdeling is:

Kalmarunie

.

Die Kalmarunie teen die begin van die 16de eeu

As gevolg van erfenisse en huwelike is Swede, Denemarke en Noorweë in 1389 in 'n gemeenskaplike ryk onder die heerskappy van die Deense koningin Margareta (Margrete) verenig. Met die Kalmarunie, 'n verbond wat danksy haar inisiatief in 1397 gesluit is, het al drie Skandinawiese lande 'n gemeenskaplike monarg erken. Die tydperk van die Kalmarunie 1397 en 1521 was nogtans gekenmerk deur 'n magstryd tussen die koninklike gesag en die adel asook opstande van burgers en boere.

Pogings van Sweedse adellikes om die nasionale eenheid van die land en sy ekonomiese belange, wat aan die Hanseverbond gekoppel was, te bevorder het tot 'n ernstige politieke konflik en uiteindelik tot die Stockholmse Bloedbad van die jaar 1520 gelei waarin die Deense koning van die Unie, Christiaan II, meer as 80 leidende adellikes laat teregstel het. In die opstand wat op die bloedbad gevolg het, het die Swede koning Christiaan II afgeset. Die nuwe heerser van die land, die adellike Gustav Wasa, is in 1523 tot Sweedse koning verkies.

Gustav Wasa, skildery deur Jakob Binck (1542)
Die gebiedsuitbreiding van die Sweedse Ryk 1560–1660

Gustav Wasa het gedurende sy regeringstydperk (1523–1560) die grondslag vir die Sweedse nasionale staat gelê. Die kerk en sy besittings is genasionaliseer en die Protestantse reformasie geleidelik deurgevoer. Die administrasie is volgens die Duitse voorbeeld herorganiseer en die politieke mag in die hande van die koning gekonsentreer. Die keurmonargie, wat aan die Sweedse adel die reg op inspraak by die gekose troonopvolging gegee het, is in 1544 ten gunste van 'n geërfde troonopvolging afgeskaf.

Alhoewel die hoë adel onder die regerings van Erik XIV (1560–1568), Johan III (1568–1592) en Sigismund (1592–1599) verskeie pogings onderneem het om die gesag van die Ryksraad te herstel, het die kroon sy magsbasis steeds gehandhaaf en onder die heerskappy van Karl IX (1599–1611) en Gustav II Adolf (1611–1632) selfs nog uitgebrei.

Nadat koning Gustav II Adolf in die Slag naby Lützen in 1632 gesneuwel het, het die hoë adel in 1634 daarin geslaag om 'n nuwe regeringsvorm in te stel wat meer gesag aan die nuutgestigte administratiewe owerhede van die sentrale staat gegee het. Die veranderde regeringstelsel was nogtans aan die voogdyskap van die regerings tydens die minderjarigheid van koningin Kristina en later koning Karl XI gekoppel en is in 1680 opgehef nadat koning Karl XI die besittings van die adel aansienlik verminder en sy status aan dié van amptenare gelykgestel het wat steeds ondergeskik was aan die koninklike gesag.

Ná die herroeping van die politieke unie met Denemarke en Noorweë was Swede se buitelandse beleid daarop gemik om 'n oorheersende rol in die Oosseegebied te speel. Die konfrontasie met Denemarke het sedert die 1560's verskeie kere tot militêre konflikte met die buurland gelei. Denemarke is uiteindelik in twee oorloë tussen 1643 en 1645 en tussen 1657 en 1658 verslaan nadat Swede in 1630 met groot sukses die kant van die Protestante in die Dertigjarige Oorlog gekies het en Gustav II Adolf een van die magtigste heersers in Europa geword het. Met die oorwinning oor Denemarke is die Deense gebiede Skone, Halland, Blekinge en die eiland Gotland en die Noorse gebiede Bohuslän, Jämtland en Härjedalen by Swede ingelyf.

Die Sweedse ryksgebied het daarnaas ook Finland, verskeie provinsies in die Baltiese lande en gebiede in Noord-Duitsland ingesluit wat van die land ná die Vrede van Wesfale in 1648 en die vredesluiting met Denemarke in Roskilde in 1658 'n Noord-Europese groot moondheid gemaak het. In die Duitse Ryk het Swede oor die besittings Voorpommere met Stettyn en Rügen, Wismar, die hertogdom Bremen en Verden beskik en sodoende die riviermondings van die Weser, Elbe en Oder oorheers asook 'n stem en setel in die Duitse Ryksdag gewen.

Nieu-Swede (Nya Sverige) omstreeks 1650

Swede het in hierdie periode ook met die kolonisasie van sy oorsese besittings in Afrika, Noord-Amerika en die Karibiese See begin. Vanaf 29 Maart 1638 het die land met sy Noord-Amerikaanse kolonie Nieu-Swede (Sweeds: Nya Sverige) oor 'n strategies belangrike handelspos en nedersetting aan die benedeloop van die Delawarerivier beskik wat naas Swede en Finne ook deur Noord-Duitsers en Nederlanders bewoon is. Ná 'n gewapende konflik met troepe van die Nederlandse kolonie Nieu-Nederland was Swede gedwing om sy Amerikaanse besitting, wat in die huidige deelstate Delaware, New Jersey en Pennsilvanië geleë was, in September 1655 aan die Nederlanders af te staan.

Swede het nogtans nie oor die nodige ekonomiese en finansiële middele beskik om sy status as 'n groot moondheid te handhaaf nie. Veral die klein bevolking van slegs 1,1 miljoen mense (waarvan 800 000 in die Sweedse kerngebied) was 'n probleem – die land het gevolglik nie oor 'n voldoende demografiese basis vir sy belasting en sy leër beskik nie. Swede het dus geprobeer om met 'n merkantilistiese ekonomiese beleid (waaronder die bevordering van uitvoere soos smeeyster, kanonne, koper en houtprodukte, buitelandse beleggings uit Nederland en Duitsland en die immigrasie van opgeleide mannekrag) vir sy klein bevolkingsbasis te kompenseer.

Sy grootste teenstanders op die internasionale arena was Denemarke, Pole, Brandenburg en later ook Rusland. Die Sweedse staat het sy oorlogsvoering deur belastingvoordele en die afstaan van kroondomeine aan die Sweedse adel gefinansier wat sodoende oor 72 persent van die grondbesit beskik het.[10]

Onder die heerskappy van die vierjarige Karl IX (1660–1697) was die land egter reeds afhanklik van Franse subsidies. Ná die mislukte inval in Brandenburg in 1675 het Swede 'n neerlaag naby Fehrbellin gelei en sy troepe is in 1678 na Oos-Pruise teruggetrek. Tegelykertyd is Swede deur Deense troepe aangeval en die Sweedse leër in 1678 in die Kjögebaai verslaan. Danksy die optrede van die Franse koning Lodewyk XIV is Swede in die vredesluitings van Lund en Saint-Germain nie gedwing om gebiede af te staan nie.

Net soos in Denemarke is die Sweedse staat volgens die absolutistiese model herorganiseer en alle voormalige kroondomeine weer deur die owerhede ingetrek. Kroon, adel en vryboere het nou oor gelyke dele van die totale grondbesit beskik.

Die hoofartikel vir hierdie afdeling is:

Groot Nordiese Oorlog

.

Koning Karl XII van Swede. Skildery deur David Klöcker Ehrenstrahl (1697)

Koning Karl XII, wat die Sweedse troon in 1697 op vyftienjarige leeftyd bestyg het, is dikwels die "laaste Wiking" genoem. Hy was 'n oortuigde Lutheraan en knap veldheer, maar ook 'n eiesinnige politikus. Die Russiese tsaar Pieter I het in 1699 saam met Sakse-Pole onder August II en Denemarke 'n alliansie teen Karl XII gesmee. Russiese en Deense troepe het teen Swede begin opmarsjeer. Danksy die ondersteuning van die Britse en Nederlandse vloot het Karel XII in 1700 in Seeland geland en 'n oorwinning teen Denemarke behaal. In dieselfde jaar het die koning ook tsaar Pieter I ondanks die vyfvoudige oormag van die vyand naby Narwa verslaan, maar nogtans die Russiese leër nie konsekwent vernietig nie. Moontlik het Karl vanweë sy persoonlike haatgevoelens teenoor die bekeerling August II die Sweedse troepe gebruik om August uit Pole te verdryf. In die Vrede van Altranstädt het August II afstand van die Poolse troon gedoen.

Danksy 'n persoonlike diplomatieke missie van die Britse veldheer John Churchill Hertog van Marlborough (1650–1722) het Karl XII sy planne om by die Spaanse Suksessieoorlog aan die kant van Frankryk betrokke te raak gestaak. Die Russiese tsaar het in die tussentyd Nöteborg (Schlüsselburg), Iwangorod en Narva (1704) verower en in 1703 Sint-Petersburg gestig.

Tydens die Rusland-veldtog van koning Karl XII in 1708/1709 het die Sweedse leër saam met die troepe van die Kosake-hetman Mazeppa 'n poging onderneem om die Oekraïene te bevry en Moskou te verower ('n "hetman" was die tweede hoogste militêre bevelvoerder (ná die monarg). As gevolg van die winterkoue, epidemieë en Russiese aanvalle het Karl se leër groot verliese gely, maar die koning het nogtans nie geskroom om sy troepe in 1709 in die Slag naby Poltawa te lei nie.

Die totale neerlaag van die Sweedse leër en sy kapitulasie naby Perewolotsjina was die eerste rampspoedige einde van 'n Rusland-veldtog in die moderne tydperk. Karl, wat in die slag gewond is, het na Turkye ontsnap. In die periode tussen 1713 en 1720 het die anti-Sweedse koalisie met konsentriese aanvalle op die Sweedse besittings langs die Noord- en Oosseekus begin. Deense troepe het tot by Bremen en Verden gemarsjeer en in 1713 Tønning verower, terwyl Rusland in die volgende jaar die Åland-eilande en Finland beset het. In 1719/1720 het Russiese troepe in Swede ingeval. Pruise en Hannover, wat in 1713 ná die Vrede van Utrecht by die koalisie aangesluit het, het die Sweedse besittings in Duitsland verower.

Koning Karl XII het ná sy Turkse internering en 'n geforseerde rit in onverwags in Stralsund opgeduik en later naby die vesting Fredrikshald gesneuwel. Die Britse en Franse belangstelling in 'n politieke ewewig in Noord-Europa het voorkom dat die Sweedse besittings volledig verlore gegaan het.

'n Reeks vredesluitings tussen 1719 en 1721 het 'n einde aan die Nordiese Oorlog gemaak. Swede het in Stockholm vredesooreenkomste met Hannover en Pruise onderteken (waarby die eersgenoemde Bremen en Verden en die laasgenoemde Voorpommere van Swede ontvang het), in Frederiksborg met Denemarke (wat nou geregtig was op 'n tol in die Sund) en in Nystad met Rusland (wat die Baltiese lande van Swede ontvang het).

Tsaar Pieter die Grote was die groot wenner by die Groot Nordiese Oorlog. Hy het na homself sedert 1721 as die "Tsaar van alle Russe" verwys, en Rusland het Swede as die groot moondheid van die Oosseegebied vervang.

Die Sweedse state het die politieke onsekerheid ten opsigte van die troonopvolging ná koning Karl XII gebruik om in die jare 1719 en 1720 'n nuwe grondwet af te kondig wat van die Ryksdag die enigste wetgewende gesag in die land gemaak het. Die Ryksdag was nog steeds volgens die vier state – adel, klerus, burgers en boere – saamgestel, en aangesien die meerderheidsbeginsel tydens besluitneming toegepas is, was die toestemming van drie state noodsaaklik om 'n wetsontwerp goed te keur. Die politieke aktiwiteite wat in die Ryksdag begin ontwikkel het, het baie op dié van moderne parlementarisme gelyk, alhoewel die moderne begrip van demokrasie nog redelik onbekend was in hierdie periode – politieke teenstanders het soms in die tronk beland of is selfs tereggestel.

Geleidelik het twee politieke groeperings ontwikkel, die sogenaamde Hattarna ("Hoede") en die Mössorna ("Musse"). Die Hattarna was 'n aristokratiese party wat vir 'n merkantilistiese ekonomiese beleid, die aktiewe bevording van fabrieke en uitvoere asook 'n revanchistiese buitelandse beleid teen Rusland (met Frankryk as bondgenoot) gepleit het. Die Mössorna was 'n anti-aristokratiese groepering wat veral die belange van die landbou waargeneem het en ten gunste van 'n versoenende beleid teenoor Rusland en nou politieke bande met Engeland was. Die Hattarna het tydens die eerste helfte van die 18de eeu meestal die uitvoerende gesag (Ryksraad) oorheers en twee oorloë gevoer.

Die Oos-Indiëvaarder Göteborg (replika)

Danksy die sterk invloed van merkantilistiese gedagtes op die ekonomiese beleid en die bevordering van die buitelandse handel is in 1731 'n Sweedse Oos-Indiese Kompanjie gestig. Die bevordering van die inheemse fabrieke was op die vervanging van invoere gemik. Yster as die belangrikste uitvoerproduk is in honderde smelterye in die land verwerk.

Die ekonomiese situasie van die landelike bevolking het eweneens danksy nuwe gedagtes en hervormings (soos die samesmelting van klein boerderye) verbeter. Die boere het as 'n sterk politieke groepering in die Ryksdag opgetree en hulle invloed laat geld. Teen die einde van die Vryheidstydperk was hulle selfs die drywende krag in die parlement.

In hierdie periode het ook die gedagtes van die verligting in die land posgevat. Danksy die inisiatief van Anders Chydenius het die Ryksdag in 1766 die Tryckfrihetsförordning ("Verordening oor die persvryheid") afgekondig wat die vryheid van die pers en daarnaas ook die publisiteitsbeginsel erken het. Swede was die eerste land ter wêreld wat in sy wetgewing uiting aan hierdie beginsel gegee en sodoende die politieke debat bevorder het. Die nuwe vryhede was 'n belangrike hupstoot vir die vooruitgang van die ekonomie, wetenskap en die literatuur. Die kulturele ontwikkeling het onder meer voordeel getrek uit die nou bande met Frankryk.

Gustav III

Koning Gustav III (1771–1792), wat aanvanklik as 'n uitsluitlik representatiewe staatshoof gefungeer het, het die mag van die Ryksdag in 1772 deur middel van 'n bloedlose staatsgreep en 'n afgedwonge nuwe grondwet weer ingeperk en vanaf 1789 die land as alleenheerser regeer.

Alhoewel koning Gustav III homself ten opsigte van party- en statepolitieke verskille neutraal verklaar het, het sy heerskappy nogtans veral op die adelsklas gesteun, terwyl sy ekonomiese beleid sterk deur die "Musse" se suinigheid en liberalisme beïnvloed is.

Die hervormings wat hy deurgevoer het, het onder meer pogings om 'n brandewynmonopolie in te voer, die bou van hospitale, die aanstelling van distrikdokters en die stigting van die eerste munisipale armehuise ingesluit. Maar die koning het veral in die kulturele lewe belanggestel. In 1786 het hy die Sweedse Akademie volgens die voorbeeld van die Franse Académie Française gestig. Gustav III het daarnaas 'n operahuis laat bou en die beeldende kunste en argitektuur bevorder. Die destydse Sweedse styl op die gebied van argitektuur en binnenshuise versiering, meubelmakery en silwersmeekuns staan gevolglik as Gustaviaanse Styl bekend.

Gustav III was minder verdraagsaam teenoor die politieke opposisie. Die persvryheid is in 1774 ingeperk en nóg politiek nόg die staatskerk en die godsdiens is as onderwerpe van politieke debatte toegelaat. Gustav se regeringstyl het steeds meer outoritêr geraak. Toe die Sweedse adel gedurende die Ryksdag van 1786 die koning geopponeer het om sy kwynende invloed en gesag te versterk, het Gustav III 'n veldtog teen Rusland onderneem om sy eie magsbasis te bewaar.

Die adel het sy misnoeë oor die oorlog duidelik te kenne gegee en meer as eenhonderd merendeels adellike offisiere het aan die oorlogsfront in Finland teen die koning gerebelleer. Gustav III het die opstand en die rojalisme wat in sy gevolg opgevlam het, uitgebuit om 'n nuwe absolutistiese staatsvorm met die steun van die nie-adellike state in te voer. Die adellike voorregte is grotendeels afgeskaf. Die opposisie teen die koning het ondergronds gegaan. Tydens 'n gemaskerde bal in 1792 is 'n sluipmoordpoging op Gustav III uitgevoer en twee weke later is die monarg aan sy skietwonde oorlede.

Sy seun Gustav IV Adolf het hom as koning van Swede opgevolg. As 'n teenstander van die Franse Rewolusie het hy by die anti-Franse koalisie aangesluit. Rusland, wat hierdie koalisie in 1807 verlaat het om 'n politieke ooreenkoms met die Franse keiser Napoléon I Bonapate aan te gaan, het Swede in die volgende jaar aangeval. Die Russiese troepe het Finland en die Norrlandse kusgebied tot by Umeå spoedig beset. Die koning is as gevolg van die militêre nederlaag in 1809 afgeset, terwyl Swede in die vredesooreenkoms van Frderikshamn gedwing is om Finland, die Åland-eilande en die oostelike deel van Västerbotten tot by die rivier Torne älv aan Rusland af te staan.

Die 19de eeu is gekenmerk deur 'n vinnige bevolkingsgroei: die land se inwonertal het tussen 1800 en 1900 van 2,3 tot 5,1 miljoen meer as verdubbel.[11]

Tydens die Napoleontiese Oorloë het die buitelandse handel sterk afgeneem – die vroeë 19de eeu was sodoende deur stagnasie en 'n ekonomiese krisis gekenmerk. In 1809 is koning Gustav IV Adolf, wat sedert 1792 geregeer het, ná 'n staatsgreep afgeset. Die nuwe regeringsvorm, wat op die beginsel van magsdeling volgens die Franse filosoof Montesquieu berus het, het van Swede in politieke opsig 'n stabiele land gemaak.

Karl XIV Johan, koning van Swede en Noorweë. Skildery deur Fredric Westin

As gevolg van Napoleon Bonaparte se Empire-stelsel, wat 'n Franse oorheersing van talle Europese lande beteken het, is die Franse maarskalk Jean Baptiste Bernadotte in 1810 as Karl XIV Johan tot Sweedse troonopvolger gekies. Hy het die land tussen 1818 en 1844 regeer en in reaksie op sy oorwegend konserwatiewe beleid het gedurende sy heerskappy 'n sterk liberale opposisie begin ontwikkel. Die invoering van die algemene skoolplig en die volkskool was een van die beduidendste prestasies in hierdie periode. Sy seun en opvolger Oskar I het ondanks sy nou politieke bande met Engeland die Skandinawistiese beweging bevorder. Tydens die Duits-Deense konflik het Swede gevolglik 'n militêre konvensie met Denemarke onderteken. Die Sweedse grense is in 1855 deur Frankryk en Engeland gewaarborg. Sowel onder Oskar I asook sy seun Karl XV (1859–1872) het die liberalisme 'n sterk invloed op die regeringsbeleid uitgeoefen. Die afskaffing van die gildestelsel, die erkenning van die vryheid van beroep in 1846, die bevordering van die vryehandel sedert die 1850's en 1860's, die invoering van selfregerende plaaslike owerhede en 'n hervorming van die parlement in 1866, waardeur die ou statekamer deur 'n moderne tweekamerstelsel vervang is, was beduidende ekonomiese en politieke mylpale.

Koning Karl XV het tydens sy heerskappy die regeringsbeleid aan die eerste minister De Geer (1818–1896) oorgelaat wat in 1866 met sy Ryksdags-hervorming met die politieke voorregte van adel en klerus weggedoen het. Die nuwe Boereparty kon ondanks sy meerderheid in die parlement nie daarin slaag om 'n regering te vorm nie. Onder Oskar II (1872–1907) het Swede 'n beleid van neutraliteit gevolg, maar nogtans nou politieke, ekonomiese, kulturele, wetenskaplike en militêre bande met Duitsland gehandhaaf en sodoende wegbeweeg van sy tradisionele vriendskaplike betrekkinge met Frankryk. Die betrekkinge met Noorweë het as gevolg van die Noorse onafhanklikheidsstrewe eweneens steeds meer afgekoel en uiteindelik in die Noorse onafhanklikheidsverklaring van die jaar 1905 uitgemond.

Swede was in die tweede helfte van die 19de eeu nog steeds 'n relatief arm land. Ten spyte van die uitbou van die spoorwegstelsel en die groei van die houtbedryf was negentig persent van die bevolking in die landbousektor werksaam. In die laat 19de eeu is proteksionistiese maatreëls soos invoerbelasting op graan (1888) en nywerheidsprodukte (1892) ingestel.[12]

'n Monument in Karlshamn (Blekinge) ter herdenking van die Sweedse emigrasiegolf in die 19de eeu

Alhoewel die land in 1850 net 3,5 en in 1930 ses miljoen inwoners gehad het, het in hierdie periode meer as 1,5 miljoen Swede veral na Noord-Amerika geëmigreer – sowat 'n kwart van die totale bevolking. Baie van die emigrante het uit die benadeelde landboustreke van Småland, Bohuslän of Värmland gekom en in die VSA klein Sweedssprekende landelike gemeenskappe in deelstate soos Minnesota en Wisconsin gestig. Een van die hoofredes vir emigrasie was die omwenteling in die Sweedse landbousektor – die voorheen gemeenskaplike landbou is in enkelplase opgedeel en sodoende is ook die tradisionele dorpsgemeenskappe ontbind. Talle bewoners van die platteland het regstreeks na oorsese lande geëmigreer, terwyl ander eers probeer het om 'n nuwe heenkome in stedelike gebiede te vind.

Die emigrante in die VSA het voordeel getrek uit die United States Homestead Act waardeur landbougrond teen baie lae pryse aan immigrante beskikbaar gestel is en danksy hulle harde werk het baie Swede in die Nuwe Wêreld welvarend geword. Dikwels het hulle finansiële steun aan hul familielede in Swede gegee en sodoende steeds meer mense na die VSA gelok. Die emigrasiegolf is daarnaas deur rederye en agentskappe bevorder: rederye het geld aan agente betaal vir die werwing van nuwe emigrante, of mense in die VSA het die reiskaartjies vir hul familielede vooruitbetaal.

Vanweë die vinnige industrialisering van Swede is die emigrasie van gekwalifiseerde burgers as 'n bedreiging vir die inheemse ekonomie beskou en die owerhede het begin om die motivering van emigrante te ondersoek. Ontevredenheid met die maatskaplike situasie in Swede, armoede en onderdrukking is as die hoofredes vir emigrasie vasgestel. Die Sweedse regering het emigrante aangemoedig om weer huis toe te kom en sowat 'n vyfde van alle Sweedse burgers in die VSA het na hul tuisland teruggekeer om hier geld in benadeelde gebiede te belê.

Baie van die demokratiese hervormings van die 20ste eeu het min of meer uit die ervarings met die groot emigrasiegolf en die regeringsverslag oor die redes vir emigrasie, wat in 1908 vrygestel is, voortgespruit.[13]

Die volkshoërskool Brunnsviks folkhögskola in Suid-Dalarna het in 1906 ontstaan
Foto: Holger Ellgaard

'n Ander tipiese kenmerk van die destydse Sweedse samelewing was die opkoms van groot volksbewegings soos die geheelonthouers, vrye kerk- of opwekkingsbeweging, vrouebeweging en veral die arbeidersbeweging wat saam met die nywerheidsomwenteling in die 19de eeu sterk gegroei het. Die gildestelsel, wat sy oorsprong in die Middeleeue gehad het, is vanaf 1846 deur nuwe arbeidersverenigings, die voorlopers van moderne vakbonde, vervang. Nadat die eienaars van 'n saagmeule in Sundsvall lone in 1879 met tussen 5 en 20 persent verminder het, het werkers gestaak en koning Oscar II het selfs troepe in Sundsvall ontplooi. Niemand is in die insidente gewond nie, tog het die kroon met sy optrede skerp reaksie uitgelok en militante Sosialistiese vakbondleiers het steeds meer invloed gewen. Die ledetal van Swede se Sosiaal-Demokratiese Party wat in 1889 gestig is, het in die periode tussen 1895 en 1905 versesdubbel tot 67 000, en die party het in die parlement oor dertien afgevaardigdes beskik.[14]

Die Christelike opwekkingsbeweging en die sogenaamde volkshoërskole (Sweeds: folkhögskolor) het 'n beduidende bydrae tot die demokratiese ontwikkeling en opvoeding in Swede gelewer. Die opwekkingsbeweging was 'n soort kerklike opposisie binne die Lutherse staatskerk wat ortodoks-Lutherse en piëtistiese opvattings dwarsoor die land en in alle maatskaplike groepe oorgedra het en dit was hier waar die gewone bevolking geleer het om te lees en sy mening te gee en sodoende ook aan die politieke lewe van 'n moderne demokratiese staat aktief deel te neem. Die Skandinawiese volkshoërskoolbeweging was daarop gemik om die opvoedkundige ontwikkeling van die plattelandse bevolking en die werkersklas te bevorder.

Frederika Bremer en Ellen Key was beduidende 19de eeuse skrywers. Terwyl Bremer met haar werke die stryd om gelyke regte vir vroue begin het, het Key met haar pleidooi vir groter ekonomiese onafhanklikheid van vroue en moeders 'n taboe oortree. Juis op die platteland, waar vroue ná die ontvangenis of geboorte van 'n kind dikwels moes trou, het hierdie nuwe siening baie aandag getrek.[14]

Die ekonomiese gevolge van die Eerste Wêreldoorlog het ook in Swede tot onluste gelei. Die foto wys 'n betoger wat tydens die Junie-onluste van 1917 in Stockholm in hegtenis geneem word

In 1901 het Swede die algemene diensplig ingevoer. Die ontbinding van die politieke unie met Noorweë in 1905 – Oskar II was nie bereid om 'n Noorse wet ten opsigte van die opening van Noorse konsulate in die buiteland goed te keur nie en het sodoende die aanleiding tot Noorweë se onafhanklikheidsverklaring gegee – het tot groot veranderings in die Sweedse partystelsel gelei, en onder koning Gustav V het die parlementêre stelsel teen die monargie geseëvier.

Die vroeë 20ste eeu was 'n tydperk van omvattende hervormings op maatskaplike en politieke gebied. Ondanks die weerstand van die konserwatiewe Progressiewe Party, wat in 1906 gestig is, het die Sosialiste (1889) en die liberale Samlingspartiet in 1909 besluit om die algemene stemreg vir mans in te voer; vroue het in 1921 stemreg gekry (alhoewel welvarende vroue in bepaalde gebiede al vroeër hierdie voorreg geniet het). In 1914 is die Sweedse leër en vloot versterk. Alhoewel die Verenigde State Swede aangemoedig het om aan geallieerde kant aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem, het Swede sy neutraliteit gehandhaaf. Ondanks die Finse regering se aansoek om militêre bystand teen die Bolsjeviste het Swede ook in hierdie konflik onsydig gebly.

Swede was tydens die Tweede Wêreldoorlog 'n belangrike toevlugsoord vir ballinge uit ander lande, waaronder die Duitse skrywer Kurt Tucholsky, die Oostenrykse funksionaris en latere bondskanselier Bruno Kreisky en die Duitse politikus en latere kanselier Willy Brandt. Danksy 'n gesamentlike reddingsaksie van Deense en Sweedse owerhede, organisasies en privaat persone is naastenby 6 000 van Denemarke se 7 800 Joodse burgers met bote in veiligheid gebring. Baie van hulle het later in Swede gebly.

Die Sosiaaldemokratiese Party, wat sedert 1917 in die regering verteenwoordig was, het in die 1930's as regeringsparty met die opbou van 'n moderne welvaartstaat begin wat ná die Tweede Wêreldoorlog alle belangrike aspekte van die menslike lewe gedek het. Terwyl die land tydens die Tweede Wêreldoorlog deur 'n koalisieregering van vier demokratiese partye geregeer is, het die Sosiaaldemokrate onder die eerste minister Per Albin Hansson weer self die regering gevorm. Ná Hansson se afsterwe in 1946 het Tage Erlander sy opvolger geword en tot in 1969 as eerste minister gefungeer. Tussen 1969 en 1976 was Olof Palme die regeringsleier.

Die Sweedse eerste minister Olof Palme betoog in Februarie 1968 aan die kant van die Noord-Viëtnamese ambassadeur Nhuyen Tho Chyan teen die oorlog in Viëtnam

Alhoewel sy optrede in diplomatieke kringe soms bevraagteken is, was die Sweedse regering vanaf die 1960's dikwels 'n hoorbare stem vir onderdruktes in ander wêrelddele. Swede het tydens die Viëtnamoorlog politieke asiel aan Amerikaanse diensweieraars en drosters asook finansiële steun aan die Kommunistiese bewind in Noord-Viëtnam gebied (en selfs diplomatieke betrekkinge met Hanoi aangeknoop) – 'n optrede wat tot politieke geskille met die VSA gelei het. Die Sweedse premier Olof Palme het ook nie geskroom om die Spaanse diktator Francisco Franco openlik as "moordenaar" te beskryf nie. Daarnaas was Swede ook simpatiek gesind teenoor bevrydingsbewegings in Latyns-Amerika en Afrika (waaronder die Suid-Afrikaanse ANC). Die Sweedse beleid in hierdie opsig was nie uitsluitlik gegrond op linkse politieke stromings wat die land destyds oorheers het nie, maar het ook uit Swede se tradisionele beleid van onsydigheid voortgespruit.

Tot in die 1970's het die land meer belang gestel in betrekkinge met die sogenaamde Derde en Vierde Wêreld as in samewerking met ander Westerse state. Groot bedrae is aan ontwikkelingshulp vir oorsese lande bestee. Net geleidelik het Swede weer meer aandag aan Europa begin skenk. Internasionale reaksies op die moord op Olof Palme in 1985 het verduidelik hoe sterk die land met sy neutrale en vredestigtende beleid vereenselwig is.

Die huidige koning van Swede, Carl XVI Gustaf

Met die hervorming van die regeringstelsel in 1974 is die Sweedse volk as die soewerein van die land erken wat in 'n vrye en geheime verkiesing die parlementslede van die Ryksdag verkies. Die Ryksdag is as die uitsluitlike wetgewer (met die reg om belastings te hef) bepaal. Die koning se rol is tot verteenwoordiger-funksies beperk. Koning Gustav VI Adolf, wat tot 1973 geregeer het, is ná sy dood deur Carl XVI Gustaf opgevolg. Met 'n wysiging van die troonopvolgingswet in 1980 is 'n gelyke erfreg vir mans en vroue ingevoer sodat prinses Victoria in plaas van haar jonger broer, Carl Philip, troonopvolger geword het.

In die laat 1980's het Swede in Skandinawië nog 'n oorheersende rol op politieke en ekonomiese gebied gespeel. In die negentigerjare is die land egter in 'n ernstige resessie gedompel, terwyl sy westelike buurland Noorweë danksy sy olierykdom 'n ongekende ekonomiese opswaai beleef het. Die ekonomiese krisis het moeilike aanpassings en keuses vir die Sweedse model geverg. In 1995 het Swede by die Europese Unie aangesluit. In 'n referendum, wat in 2003 gehou is, het 'n meerderheid van die Sweedse bevolking hulle nogtans teen die invoering van die Europese geldeenheid, die euro, uitgespreek.

Die Russiese inval in Oekraïne sedert 2022 het in beide Swede en Finland tot 'n spoedige herbesinning oor albei lande se tradisionele militêre neutraliteit gelei.[15] Nadat herhaaldelike meningspeilings 'n toename vir 'n NAVO-lidmaatskap getoon het, het op 17 Mei 2022 die Sweedse regering saam met sy Finse eweknie 'n aansoek vir lidmaatskap ingedien,[16] wat op 18 Mei by die NAVO-hoofkantoor in Brussel aan die sekretaris-generaal Jens Stoltenberg oorhandig is.[17] Op 5 Julie 2022 het al 30 die NAVO-ambassadeurs die toetreeprotokolle onderteken en tot 6 Maart 2024 het al die NAVO-lidlande se parlemente die protokolle goedgekeur. Op 7 Maart 2024 het Swede 'n NAVO-lidland geword.[18] Daarmee is al die Skandinawiese lande vir die eerste keer sedert die ontbinding van die Kalmarunie in 1523 weer lede van een (en dieselfde) militêre alliansie.[19][20]

Papiermeul in Sundsvall

Swede se ekonomie is sterk op uitvoer gerig en spog met 'n aantal hoogs mededingende bedrywe soos houtverwerking, sellulose- en papiervervaardiging, motor-, elektrotegniese, farmaseutiese en wapennywerhede, inligtings- en biotegnologie asook hernieubare energie insluit. Multinasionale ondernemings met globale statuur speel 'n belangrike rol. Duitsland, die Verenigde State en die Nordiese lande is Swede se vernaamste handelsvennote.

Kenmerkend is die groot rol wat die Sweedse staat in die ekonomie speel – staatsuitgawes vir goedere en dienste beloop meer as dertig persent van die bruto binnelandse produk (BNP). Die grootste deel hiervan word aan onderwys, opvoeding en die gesondheidssektor bestee. In die verlede is meer as 'n vyfde van die BNP herverdeel en regstreeks aan ontvangers van uitkerings onder die Sweedse welvaartstelsel uitbetaal.

As strukturele sterktes van die Sweedse ekonomie word veral die hoogs ontwikkelde infrastruktuur, die betreklik hoë persentasie ekonomies aktiewe vroue, die groot persentasie Sweedse werknemers wat hoër opleiding voltooi het, aansienlike beleggings in menslike kapitaal, navorsing en ontwikkeling asook die relatief lae belasting op bedryfsinkomste uitgewys. Daarenteen word die uitgebreide werkloosheidskoers (onder meer onder jeugdiges – 17,8 persent in 2017), die groot getal vroeg afgetredenes en langtermynsiekes en hoë prysvlakke as gevolg van die markmag wat 'n relatief klein aantal groot ondernemings in bepaalde sektore soos die bou- en voedselbedryf en staatsmonopolies soos dié op drank.[24]

Kopermyn in Falun

Die huidige ekonomiese welvaart van Swede is 'n fenomeen wat eers ná die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel het. In vergelyking met ander Europese gebiede was die land ten opsigte van sy topografie, geologie en klimaat eeue lank benadeel en het net danksy verbeterde verbouingsmetodes in die landbousektor, tegniese vooruitgang en die invoering van tegniese kommunikasie- en vervoermiddels sedert die middel van die 19de eeu 'n vinnige modernisering en industrialisering beleef.[25]

Nogtans het die Sweedse ystererts- en kopervoorrade al in die Middeleeue 'n belangrike rol vir die inheemse en Europese ekonomie gespeel. Die kopermyn in Falun was vanaf die jaar 1280 die beduidendste in Europa wat van Swede 'n belangrike moondheid gemaak het. Die ysterertsontginning het in die 14de eeu in Sentraal-Swede begin; later is ystertertsmyne ook in die noorde van die land geopen. Omstreeks 1750 het Swede sowat 40 persent van die wêreldproduksie opgelewer.[26] Hierdie aandeel het intussen tot sowat twee persent gedaal, tog bly Swede steeds een van die belangrikste uitvoerders van ystererts. Die land beskik oor 90 persent van alle Europese voorrade van ystererts van gehalte. Die baie hoë kwaliteit van die plaaslike ystererts het ook van Sweedse staal 'n gewilde uitvoerproduk gemaak.

'n Prototipe van die eerste Saab-motor (1946). Die motorvervaardiger se deure is in 2009/2010 gesluit
Die Volvo XC90, wat onder meer op die Amerikaanse mark gemik is
Die Sweedse skryfster Martina Haag en die akteur Mogge Sseruwagi, 'n boorling van Kenia, in 'n advertensievideo vir die Sweedese meubelreus Ikea

In die eerste helfte van die 19de eeu was Swede nog steeds deur 'n agrariese ekonomie gekenmerk – sowat 90 persent van die bevolking was in die landbousektor werksaam wat met sy tradisionele strukture nie oor die geskikte basis vir 'n modernisering beskik het nie. Die bevolkingsontploffing in die 19de eeu het sodoende ernstige probleme vir die land geskep. Haglike lewensomstandighede het honderdduisende mense genoodsaak om 'n nuwe heenkome in Noord-Amerika te vind.

Die vinnige industrialisering wat in die tweede helfte van die 19de eeu begin het, het van Swede tot die Groot Depressie in 1929 'n moderne nywerheidsland gemaak. In die periode tussen 1850 en 1970 was die Sweedse ekonomie – naas dié van Japan – die snelste groeiende ter wêreld en danksy die invoering van die volksskool in 1842 het Swede naas die VSA ook oor die gevorderdste onderwysstelsel van alle lande beskik. Met die herorganisering van die Ryksbank, wat oorspronklik in 1688 gestig is en tot die oudstes ter wêreld behoort, het Swede in 1834 ook die finansiële grondslag vir sy vinnige ontwikkeling gelê.

Die Sweedse nywerheidsomwenteling het hoofsaaklik op die beskikbaarheid en plaaslike verwerking van natuurlike hulpbronne soos ystererts en swaar nywerhede in Svealand, uitgestrekte bosgebiede in die noorde van die land en 'n groot aantal saagmeule langs die kus van Norrland gebaseer. Die ystererts wat in die myne van Kiruna en Gällivare in die Arktiese noorde van die land ontgin is, is via die seehawens van Luleå en Narvik (Noorweë) veral na Duitsland uitgevoer. Die bou van waterkragsentrales het gekompenseer vir die gebrek aan inheemse steenkool- en aardgasbronne.

Die grootskaalse uitvoer van ystererts, hout en pulp het 'n gesonde basis vir die verdere ekonomiese ontwikkeling van die land geskep. Swede het genoeg buitelandse valuta verdien om gevorderde tegnologieë en gesofistikeerde nywerheidsgoedere in te voer en geleidelik begin om ook self nuwe nywerheidsprodukte te ontwikkel. Die eerste tafeltelefoon is deur Lars-Magnus Ericsson gebou; Sven Wingquist het die ontwerp en gehalte van moderne koeëllaers verbeter; Alexander Lagerman het 'n nuwe masjien vir die massavervaardiging van vuurhoutjies ontwikkel; Alfred Nobel het 'n patent vir dinamiet ontvang; Baltzar von Platen het die eerste gasaangederwe koelmasjien gebou en Gustaf de Laval het bekendheid as die uitvinder van die moderne melkskeier verwerf.[27]

Nywerhede met gevorderde tegnologieë, wat internasionaal bekende ondernemings soos Nobel AB, ASEA (tans ABB), Bahco, LM Eriksson, Alfa Laval en SKF ingesluit het, het eers sedert die 1890's veral in Sentraal-Swede begin ontwikkel. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Swede een van die leidende nywerheidslande ter wêreld geword, terwyl sy bevolking vinnig verstedelik het.

Die industriële ontwikkeling het sy hoogtepunt teen die middel van die 1960's bereik, terwyl die aantal werknemers in die nywerheidsektor sedert die 1970's ten gunste van die dienssektor afgeneem het. In 2003 was 2,1 persent van die werknemers in die landbou werksaam, 22,6 persent in die nywerheid- en 75,1 persent in die dienssektor.[28]

Die Sweedse ekonomie is uitvoergerig (uitvoere beloop byna 50 persent van die bruto geografiese produk [BGP]) en word deur 'n groot aantal globale maatskappye soos byvoorbeeld Ericsson, Volvo, ABB, Electrolux, SKF en AstraZeneca gekenmerk. Internasionaal mededingende sektore sluit die hout-, sellulose- en papierbedryf, nywerhede soos die motor-, elektrotegniese, farmaseutiese en wapenbedryf, asook biotegnologie en hernieubare energieë in. Danksy die modernisering van sy tradisionele houtbedryf is Swede nog steeds een van die grootste produsente en uitvoerlande ter wêreld van sellulose, papier, saaghout en meubels. Die hoofhandelsvennote is Duitsland, die VSA en die Nordiese lande.

Die Sweedse staat speel nog steeds 'n beduidende rol in die ekonomiese lewe – regstreekse en indirekte belastings verteenwoordig sowat 50 persent van die BGP, terwyl die staatsuitgawes vir goedere en dienste meer as 30 persent van die BGP beloop. Die Sweedse staat belê veral in die onderwys- en gesondheidstelsel. Meer as 20 persent van die BGP is vir regstreekse sosiale toelae met die oog op herverdeling van inkomste bestee.

Die Sweedse ekonomie trek voordeel uit 'n moderne infrastruktuur, hoë beleggings in menslike hulpbronne, navorsing en ontwikkeling asook lae belastingtariewe vir ondernemings. Fundamentele probleme is die relatief groot aantal langtermynsiekes en werknemers wat voor die bereiking van die amptelike pensioenaris-ouderdom aftree, die hoë prysvlak in sektore soos die bou- en voedselbedryf, wat aan die markmag van 'n klein aantal groot maatskappye te wyte is, en staatsmonopole ten opsigte van drankwinkels en apteke.

Die krisis waarin die Sweedse welvaartstelsel in die 1990's beland het, het die aanleiding tot grootskaalse hervormings gegee.

Die ontwikkeling van Swede se moderne ekonomiese en sosiale stelsel het in die laaste derde van die 19de eeu begin en word in drie fases verdeel.

Die eerste fase, wat omstreeks 1870 begin en tot die 1960's geduur het, was gekenmerk deur 'n liberale ekonomiese beleid waarby die staat die vryemark net soos die gesondheids- en onderwysstelsel en die land se infrastruktuur met sy vooruitstrewende wetgewing ondersteun en ontwikkel het. Die totale staatsuitgawes – gemeet as aandeel aan die bruto binnelandse produk (BBP) – was in 1960 nog so hoog soos dié van die Verenigde State.[29] Tydens hierdie fase het Swede, gemeet aan die bruto binnelandse produk per capita, van een van die armste lande in Wes-Europa tot die derde welvarendste ontwikkel.

'n Belangrike kenmerk van die Sweedse model was die noue samewerking tussen die regering, werkgewers en werknemers. Die Sosiaal-Demokratiese Party het hierdie samewerking as die enigste konstruktiewe manier beskou waarop die ontwikkeling tot 'n welvaartstaat moontlik sou wees. Die Sosiaal-Demokrate het hierby voordeel getrek uit die feit dat die land se nywerheidsektor deur 'n klein aantal welvarende gesinne oorheers is (waaronder die Wallenbergs wat nog steeds 'n leidende dinastie van nyweraars is) wat bereid was om Swede se ekonomiese en maatskaplike model saam met die regering te beplan. Daarnaas het die Sosiaal-Demokrate die land vanaf 1932 dekades lank geregeer – met die uitsondering van twee periodes tussen 1976 en 1982, en tussen 1991 en 1994 – en sodoende vir politieke stabiliteit gesorg.[30]

Die Sweedse welvaartsmodelstaat het sowel die posisie van vakbonde asook dié van werkgewers versterk. Nadat die eerste derde van die 20ste eeu deur 'n groot aantal stakings gekenmerk was, het vakbondleiers en nyweraars in 1938 in Saltsjöbaden naby Stockholm byeengekom om 'n historiese ooreenkoms te sluit. Die vakbonde het hulself daartoe verplig om stakings en ander maatreëls vroegtydig aan te kondig, terwyl die werkgewers ingestem het om meer regte aan werknemers te gee. Die ooreenkoms is in 1940 onderteken en die Sweedse nywerheidsektor het oor die volgende dekades vinnig ontwikkel sonder om deur stakings of nasionaliserings ontwrig te word. Ná die Tweede Wêreldoorlog was werkloosheidsyfers uiters laag, die privaatsektor was mededingend en winsgewend, terwyl korporatiewe belasting met sowat 28 persent een van die laagstes in Europa was.[30]

Die tweede fase het van 1960 tot 1985 geduur. In hierdie periode het Swede steeds aan sy vryemarkbeleid vasgehou, die hoofimpuls van die destydse beleid was egter die bou van 'n omvattende welvaartstelsel. Die staatsuitgawes as aandeel van die BBP het gevolglik skerp gestyg van 30 persent in 1960 tot 'n rekordsyfer van byna 65 persent in die laat 1980's.[31] In dieselfde tydperk is die maksimale persoonlike inkomstebelasting vir die meeste voltydse werknemers van 40 tot tussen 65 en 75 persent verhoog.[31]

Alhoewel daar as gevolg van die nivellering van inkomsteverskille minder finansiële aansporings was om te werk, te spaar of om 'n sakeonderneming te stig, het die staat die afdanking van werknemers sonder billike redes baie moeilik gemaak. Die fase tussen 1960 en 1985 was die klassieke periode van die Sweedse welvaartstaatmodel.

Swede se ekonomiese prestasie was in hierdie tydperk middelmatig – die BBP per capita was tussen 1970 en 1995 18 persent laer as dié van die welvarendste OESO-lidstate en Swede is net as die 17de rykste land in die OESO gelys.[31]

Die opheffing van valutabeheer in die laat 1980's en Swede se toetrede tot die Europese Unie in die vroeë 1990's het die derde fase van die Sweedse model ingelui. Die Sosiaal-Demokratiese regering het die belastingtariewe in 1991 vir talle werknemers met tussen 10 en 20 persent verlaag en die volgende konserwatief-liberale koalisieregering het met die deregulering van 'n aantal markte soos telekommunikasie, elektrisiteitsvoorsiening, pad- en spoorvervoer begin. Selfs die onderwysstelsel, kinder- en bejaardesorg is deur die nuwe beleid van privatisering geraak om mededinging in die dienssektor te bevorder.

In die volgende jare het Swede sowat 'n derde van sy agterstand ten opsigte van die BBP per capita uitgewis en die ekonomiese groei het sedert die middel van die 1990's versnel. Nogtans was 23 persent van die ekonomies aktiewe bevolking afhanklik van staatssubsidiëring. In 2007 het die staatsuitgawes nog steeds 53 persent van die BBP beloop.

Kernaanleg in Oskarshamn

Die Sweedse Minister vir Volhoubare Ontwikkeling, Mona Sahlin, het op 7 Februarie 2006 'n regeringsplan aan die publiek bekend gestel waarvolgens Swede teen 2020 die eerste "olievrye ekonomie ter wêreld" sal wees.[32] Die toekomstige energiebeleid sal op die uitbou van hernubare energiebronne, veral die gebruik van bioenergie deur middel van houtverwerking, windkrag, golfkrag (branderkrag) en biogas, konsentreer. Die ontwikkeling van effisiënte tegnologieë ter vermindering van die energieverbruik is 'n tweede hoofdoelwit.

In 2008 het Swede nog sowat 'n derde van sy energie uit fossielbrandstowwe opgewek – veral die vervoersektor is sterk afhanklik van ru-olieinvoere. Kernkrag- en waterkragsentrales lewer respektiewelik die helfte van alle krag op wat in die land opgewek word. Die Sweedse energieverskaffer Vattenfall het in Mei 2006 aangekondig dat hy groot bedrae aan die uitbou van windkrag sal bestee. Die vermoë van sy windkragaanlegtes sal van 7 terawattuur in 2006 tot 17 terawattuur in 2016 uitgebou word.[32]