Yoshihide Suga
Yoshihide Suga

Ampstermyn
16 September 2020  4 Oktober 2021
Vise Tarō Asō
Monarg Naruhito
Voorafgegaan deur Shinzo Abe
Opgevolg deur Fumio Kishida

President van die Liberale Demokratiese Party

Ampstermyn
14 September 2020  29 September 2021
Voorafgegaan deur Shinzo Abe
Opgevolg deur Fumio Kishida

Hoofkabinetsekretaris

Ampstermyn
26 Desember 2012  16 September 2020
Eerste minister Shinzo Abe
Voorafgegaan deur Osamu Fujimura
Opgevolg deur Katsunobu Katō

Minister vir Binnelandse Sake en Kommunikasie

Ampstermyn
29 September 2006  27 Augustus 2007
Eerste minister Shinzo Abe
Voorafgegaan deur Heizō Takenaka
Opgevolg deur Hiroya Masuda

Lid van die Huis van Verteenwoordigers vir

Kanagawa

se 2de-distrik

Ampsbekleër
Termynaanvang
20 Oktober 1996
Voorafgegaan deur Kiesafdeling geskep

Persoonlike besonderhede

Gebore 6 Desember 1948 (1948-12-06) (77 jaar oud)
Politieke party Liberale Demokratiese Party
Eggenoot/-note Mariko Suga
Kind(ers) 3
Alma mater Hosei-universiteit (LLB)

Yoshihide Suga (菅 義偉, Suga Yoshihide?, gebore 6 Desember 1948) is 'n Japannese politikus wat vanaf 16 September 2020 tot 4 Oktober 2021 as die Eerste minister van Japan gedien het. Hy is op 14 September 2020 tot president van die Liberaaldemokratiese Party verkies en op 16 September 2020 deur die Kokkai as eerste minister. Suga was die eerste Eerste Minister van die Reiwa-tydperk.

Suga is aan 'n familie van aarbeiboere in Ogachi (nou Yuzawa), 'n landelike gebied in die Akita-prefektuur, gebore. Hy het na Tokio verhuis nadat hy aan Hoërskool Yuzawa gematrikuleer het. Hy het aandskool bygewoon om 'n regsgraad van die Hosei Universiteit in 1973 te verwerf.[1][2] Suga het Hosei gekies "omdat dit die goedkoopste opsie was wat beskikbaar was" en hy het "in 'n kartonfabriek in Tokio gewerk om vir sy onderrig te betaal".[3]

​Nadat hy universiteit voltooi het, het Suga aan 'n Huis van Raadslede (hoërhuis) verkiesingsveldtog gewerk en daarna het hy vir elf jaar as LDP-parlementslid Hikosaburo Okonogi, pa van die LDP-politikus Hachiro Okonogi, se sekretaris gewerk. Suga het in Oktober 1986 uit dié pos bedank om sy eie loopbaan in die politiek te volg.[4] Hy is in 1987 tot die Jokohama-stadsraad verkies.[5][6]

Suga is in 1996 as verteenwoordiger vir Kanagawa se 2de-distrik tot die Kokkai verkies. Hy is in November 2005 deur Eerste Minister Junichiro Koizumi as die Senior Viseminister vir Binnelandse Sake en Kommunikasie aangestel. Hy is in September 2006 bevorder tot Minister van Binnelandse Sake en Kommunikasie en Minister vir Privatisering van die Posdienste in die eerste Shinzo Abe-kabinet, en het in Desember 2006 die portefeulje van Minister van Staat vir Desentralisasiehervorming oorgeneem.[5] In Oktober 2011 is Suga as voorsitter van die LDP se organisasie en veldtoghoofkwartier aangewys. In September 2012 is hy as die uitvoerende hoof in die kantoor van die waarnemende sekretaris-generaal van die LDP aangewys.[5]

Ná Eerste minister Shinzo Abe se oorwinning in die algemene verkiesing van 2012, is Suga in Desember 2012 as hoofkabinetsekretaris in die tweede Abe-kabinet aangewys. In September 2014 het hy die bykomende portefeulje van minister in beheer van die verligting van die las van die basisse in Okinawa ontvang.[5]

Suga het plaaslike en internasionale roem verwerf toe hy die naam van die nuwe imperiale era, Reiwa, op 1 April 2019 aangekondig het, wat hom die bynaam "Oom Reiwa" (Reiwa Ojisan) besorg het.[7][8]

Ná Abe se aankondiging dat hy as Eerste minister en as president van die LDP sou bedank, is Suga op 14 September 2020 as president van die LDP verkies. Hy het met 377 stemme uit 'n totaal van 534 gewen.[9][10]

Op 3 September 2021 het Suga aangekondig dat hy nie vir herverkiesing as hoof van die LDP sou staan nie.[11] Hierdie aankondiging het gevolg nadat sy goedkeuringsgraderings op 'n algehele laagtepunt was (onder 30% in onlangse peilings), aangesien die land gesukkel het met sy ergste golf van COVID-19-infeksies voor die algemene verkiesing daardie jaar. Op 29 September 2021 is Fumio Kishida as partyleier verkies en hy het vir Suga op 4 Oktober 2021 as eerste minister van Japan opgevolg.[12][13]